Ricus Nel sing die land aan die brand met sy liedjie Hardekole, wat al meer as 18 miljoen keer op YouTube gekyk is. Hy, Bok van Blerk, Refentse en Adam Tas sê hulle verkies almal hout om hul vleisie op gaar te maak.
Dié vier kunstenaars gaan die vermaak verskaf op die groot Be Human Castle Lager-braaidag, wat beplan word vir Saterdag 24 September by Be Human op Middelwater.
Op dié dag sal die gewone Familiemark nie plaasvind nie, maar sal almal by die groot Be Human Castle Lager-braaidag kan kom saamkuier.
Die rugbytoets tussen die Springbokke en Argentinië gaan tussen die optredes op die groot skerm vertoon word, so gaste kan die rugby saam met ander ondersteuners geniet.
Braaivleisvure gaan heeldag brand, met gaste wat kan kies om ’n braaipak saam met hul toegangskaartjie te koop. Gaste wat nie aanvanklik dié braaipak-kaartjie koop nie, maar later besluit hulle het lus om saam te braai, sal dit só kan doen.
’n Kontantkroeg sal die hele dag oop wees.
Adam Tas open die dag se musiekvermaak met ’n vertoning om 13:55, en om 15:35 is Bok van Blerk aan die beurt, waarna besoekers om 17:05 kan regskuif vir die rugby. Ná die wedstryd tree Refentse om 18:45 op, en Ricus Nel sluit die dag se kuier af met ’n vertoning wat om 20:25 begin.
Toegangskaartjies kos R375 – een so ’n kaartjie gee toegang tot al die vertonings. ’n Braaipak-toegangskaartjie kos R495. Toegang vir babas en kleuters, van jonger as ’n jaar tot vier jaar, kos R20. Kinders 12 jaar en jonger betaal R190 vir ’n toegangskaartjie, en braaipak-toegangskaartjies vir dié kinders – met ’n worsrolletjie en ’n hoenderboudjie – kos R230.
Kaartjies is by Computicket beskikbaar.
Hou Bloemnuusdop vir meer oor dié dag.