Musici is weer fluks aan die gang noudat die koronavirusmaatreëls verslap word en teaters 50% vol mag wees. Ook die Odeion-strykkwartet het die goeie nuus aangegryp en vroeg reeds inligting oor sy optredes uitgestuur.
’n Vooruitsig waaroor musiekliefhebbers opgewonde sal wees, is ’n uitvoering saam met die gewilde oud-Bloemfonteiner Charl du Plessis.
Dié pianis is uit sy vel oor die uitnodiging om ’n klassieke werk te speel as afwisseling van sy meestal “smooth jazz”-uitvoerings, en vir musiek waarin hy spreekwoordelik sy tande kan slaan.
Om die waarheid te sê, hy het dadelik begin oefen toe hy die uitnodiging ontvang het en ken reeds die musiek vir die konsert in Maart.
Du Plessis sê hy is so opgewonde en ernstig oor die optrede dat hy van Pretoria af Kaapstad toe gaan vlieg om by sy mentor Albie van Schalkwyk les te kry.
Brahms se musiek is in beginsel nie maklik nie, en so ook sy Klavierkwintet in F mineur, op. 34. Die stemming is tipies van die komponis aan die donker kant, en wissel van angstig en demonies tot tragies. Dit is egter altyd ’n lus vir die oor.
Brahms se eerste weergawe van die komposisie was vir strykkwartet alleen. Dit het hy toe vir twee klaviere verwerk en daarna as klavierkwintet. Skynbaar was hy so tevrede met die laaste poging dat hy die komposisie vir strykkwartet vernietig het.
Die klavier speel hierin net so ’n belangrike rol soos die strykers, wat nog ’n rede is waarom Du Plessis wil verseker dat hy 110% kan lewer.
“Die Odeion-kwartet is ’n gerekende ensemble – ek kan nie waag om hulle in die steek te laat nie,” sê hy.
Die uitvoering, wat open met Brahms se Strykkwartet in C mineur op. 51 nr. 1, is op 3 Maart in die Odeion op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Kaartjies kos R120 by Computicket.
Die Odeion-kwartet kan nou ook weer vordering maak met sy selfopgelegde uitdaging om al 68 Haydn-strykkwartette uit te voer.
Anmari van der Westhuizen, bestuurder van die kwartet, sê daar is verskeie redes waarom hulle dié berg wil uitklim.
“Haydn is die vader van die strykkwartet en dié werke die grondslag van strykkwartetspel. Elke werk is ’n oefening in tegniek, samespel en die fyner nuanses van vertolking. ’n Mens moet dié fasette van tyd tot tyd opnuut vaslê.
“Die musiek is ook so geskryf dat die spelers buitengewoon blootgestel is, wat beteken jy moet deeglik voorberei.”
Die reeks – wat terloops teen ’n tempo van agt strykkwartette per jaar meer as agt jaar sal neem om te voltooi – word as middagkonserte om 13:10 in die Odeion-teater aangebied.
- Die eerste konsert in die reeks is reeds gehou en word op 8 Maart voortgesit met op. 50 nrs. 3 en 4; op 12 April met op. 50 nrs. 5 en 6; en op 10 Mei met op. 54 nr. 3.
Die konserte is gratis vir die publiek.