Personeel van Centlec is op die toneel in Klaradynlaan in Pellissier waar daar kort ná 15:00 ’n ontploffing by die substasie was.
Herman Booysen, ’n inwoner net 500m van die substasie af, sê daar was drie ontploffings.
“Met die eerste ontploffing het ek gedink dit is ’n band van ’n vragmotor op die N1 net agter die huis wat bars. Kort daarna was daar nog ’n ontploffing.”
Vida, sy vrou, sê baie mense het uitgegaan om te kyk wat die ontploffing veroorsaak het, toe daar ’n ‘n baie harde ontploffing was.
“Stukke van die transformator het tot hier by ons huis geval,” sê Herman.
Braam van Zyl, van die Mangaung-brandweer, sê die brand is vinnig geblus. “Centlec het eers die krag afgeskakel, en daarna is die brand geblus met ’n hoëdruk-waterspuit.”
Lele Mamatu, woordvoerder van Centlec sê die substasie bedien die hele noorde van Pellissier.
Dulandi Leech, DA-raadslid, sê volgens ’n kennisgewing van Centlec, behoort die herstel van die substasie sowat drie uur te duur en behoort die elektrisiteit weer aangeskakel te word.
Mamatu sê dit kan nie uitgesluit word dat die ontploffing verband hou met beurtkrag nie.