Brand in Bfn laat gesin dakloos

’n Veldbrand wat buite beheer geraak het, het gisteraand ’n woonstel, motors en woonwaens by ‘n hoewe buite Bloemfontein verwoes.


Die binnekant van die woonstel wat gisteraand verwoes is.

’n Veldbrand wat buite beheer geraak het, het gisteraand ’n woonstel, motors en woonwaens verwoes.

Evan van der Walt van Gedultsplain in Medowsweg, Lake View, sê hy was nie gister by die huis toe die brand tot by die huis versprei het nie.

Een van hulle grootmaakkinders het vir Evan se vrou, Heleen, kom sê dat ’n brand in die hoek van die erf is. Dit was ongeveer om 16:00.

“Ek het vir die kinders gesê om hul pa te bel om te kom help,” sê Heleen.

Evan het teruggery en hulle het die brand probeer bestry, toe die wind skielik draai.

Evan van der Walt voor die woonstel wat binne heeltemal deur die brand verwoes is. Foto: Lientjie Mentz

Die brandweer is laat weet en hulle was net voor 18:00 op die toneel en het tot laataand gespook om die brand onder beheer te kry.

’n Woonstel waarin ’n egpaar en hul kind (6) woon, is in die brand vernietig. Geen van hul besittings kon gered word nie en vriende het gisteraand vir hulle blyplek gegee.

Evan sê hy het onlangs nog die dak en sonpanele vir die woonstel laat oprig.

“Ek is net so dankbaar dat niemand seergekry het nie,” sê hy met trane in sy oë oor die grootmaakkinders wat hier bly.

“Teen vanoggend om 03:00 het ons steeds geswoeg om smeulende as nat te gooi. Ek het niks geslaap nie.”

Benewens die woonstel, is twee voertuie asook twee woonwaens wat langs die huis staan, uitgebrand en baie van hul besittings is in die brand beskadig.

Een van die kinders sê daar was eiers in rakke in een van die woonwaens.

  • Mense wat die gesin wil help met klere, huistoebehore en ander skenkings, kan dit aflaai by Gilbert Smit op die Ou Thaba Nchuweg 202 in Bloemspruit of bel hom by 074- 702-1722 of Jennifer Bothma by 083-370-6967.
  • Talle brande het die afgelope week in dié hoewegebied voorgekom en inwoners word versoek om beheerde voorbrande om hul huise te maak.

Twee voertuie wat in die brand verwoes is.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.