’n Huis in Engo se Westerbloem-aftreekompleks in Bloemfontein is Sondagaand in ’n brand verwoes pas nadat daar by die huis ingebreek is. Die inbrekers het vermoedelik die brand gestig om forensiese bewyse te vernietig.
Die inwoner was ten tyde van die voorval in die hospitaal.
Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê ’n 2007-model Mercedes-Benz is ’n ent van die huis af gevind, met ’n televisie, ’n kamera en tas met ses bottels whisky wat vermoedelik uit die huis gesteel is.
Hy sê die polisie ondersoek sake van huisbraak met die doel om ’n misdaad te pleeg, die diefstal van ’n motorvoertuig en brandstigting.
Inwoners van die kompleks het aan Volksbladgesê hulle is bekommerd oor ’n toename in inbrake. Van hulle sê hulle het inbrekers sien wegkruip en beweer van die brandtoerusting het nie gewerk nie.
Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-metro se brand-en-reddingsdienste, sê die brandweer is Sondag omstreeks 20:40 ontbied en was binne agt minute op die toneel. Die brand was toe reeds in ’n gevorderde stadium, maar is binne minder as tien minute onder beheer gebring, sê hy.
De Wet Claassens, uitvoerende direkteur van Engo, sê Engo doen ook ’n interne ondersoek ná die voorval.
Covane vra enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help om kapt. Sabata Moseme te kontak by 082 526 2713, of die inligting deur die My SAPS-app of die polisie se Stop Misdaadnommer, 08600-10111, te verskaf.