Brand verwoes restaurant en haarsalon in Bfn

’n Brand het vroeg vanoggend in winkels op die grondverdieping van die NBC-gebou op die hoek van Wesburger- en Miriam Makebastraat in Bloemfontein se middestad uitgebreek.


’n Brand het vroeg vanoggend in winkels op die grondverdieping van die NBC-gebou op die hoek van Wesburger- en Miriam Makebastraat in Bloemfontein se middestad uitgebreek.

Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-metro, sê dit wil voorkom of die brand uitgebreek het in ’n restaurant in Wesburgerstraat en toe uitgebrei het na ’n haarsalon langsaan. Die Capitec-bank wat ook in dié gebou geleë is, het nie brandskade opgedoen nie.

Brandweerlui sê hulle glo daar is rookskade in die kantore bokant die winkels wat gebrand het, maar kon nie toegang tot die kantore kry nie.

Die brandweer is vanoggend om 05:00 ontbied en teen 08:00 was die brand onder beheer.

’n Brandweerwa voor die NBS-gebou in Bloemfontein se middestad waar ’n brand vanoggend geblus is.

Van Zyl sê eers nadat die rook opgeklaar het, sal hulle ondersoek kan instel na wat die oorsaak van die brand was.

Die gebou behoort aan die Michael Family Trust.

Dié brand volg kort op sewe brande wat in ses weke in ’n historiese gebou naby die NBC-gebou in Miriam Makebastraat ontstaan het.

In dié gebou waar die prestigeryke Bloemfontein-klub destyds geleë was en later die hoofkwartier van die Celtic-sokkerklub gehuisves het, is groot skade reeds aangerig en kabels is reeds op verskeie plekke gesteel.

Van Zyl sê die brande het al op verskeie verdiepings van die gebou uitgebreek, waarvan die laaste een Sondag (20/11) was.

Hy sê hulle vermoed die brande word deur kwaaddoeners gestig.

Die gebou in Miriam Makebastraat waar sewe brande in ses weke skade veroorsaak het.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.