’n Tweede koshuisgebou is binne drie jaar by die Dr. Blok Sekondêre Skool in Heidedal in ’n brand in puin gelê.
Die meisiesinwoners van die koshuis moes Sondag (05/06) inderhaas ontruim word. Die rook het plek-plek nog getrek toe dr. Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, Maandag besoek afgelê het.
’n Deel van die onderste verdieping van die tweeverdiepinggebou is nou net ’n gat.
Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-metro se brandweer en nooddiens, sê dit het Sondag drie uur geneem om die brand te blus. Die brandweer is om 16:57 ontbied en het om 17:07 op die toneel aangekom. “Met die brandweer se aankoms was die brand op die grond- en boonste verdieping al in ’n gevorderde stadium.”
Van Zyl sê die brandweerpersoneel het die gebou ingegaan en elke vertrek deeglik deursoek om seker te maak niemand is in die brandende gebou nie. Almal was toe al uit.
“Van die kinders en omstanders is op die toneel vir rookinaseming en skok behandel, en van hulle is gehospitaliseer.”
Hy sê forensiese spanne van die polisie en brandweerdiens ondersoek die oorsaak van die brand.
Volgens Makgoe is niemand beseer nie. Drie leerlinge is wel vir waarneming na die Pelonomi-hospitaal in die stad geneem, maar hulle is dieselfde aand ontslaan.
Zonisele Zweni, onderhoof, sê net 34 van die 57 koshuisgangers was ten tyde van die brand in die gebou, aangesien leerlinge nog besig was om ná die naweek terug te keer.
Dié koshuis huisves meisies van gr. 3 tot gr. 11, met nog twee koshuise vir onderskeidelik die matriekmeisies en vir die seuns. Die skool het 137 koshuisleerlinge.
Die nuwe koshuisgebou wat meisies en seuns sal huisves, wat die een vervang wat in 2019 ook in ’n brand in puin gelê is, is in ’n gevorderde stadium. Altesaam 68 leerlinge sal daar gehuisves kan word.
Makgoe sê die kontrakteur het onderneem dat die gebou binne vier weke voltooi sal wees.
Makgoe, December Moloi, Motheo-distriksdirekteur van die Vrystaatse onderwysdepartement, en ander amptenare het Maandag na die skade en na die vordering aan die nuwe gebou gaan kyk. Amptenare was ook Sondag by die skool.
Makgoe het die leerlinge van die beskadigde koshuis bemoedig en gesê hulle moet God dank dat hulle ongedeerd is. Hy het aan die meisies gesê die departement doen alles in sy vermoë om hulle by te staan.
Die koshuisleerlinge het Sondagaand in ’n gastehuis oornag.
Makgoe het aan die media gesê die koshuis is verwoes en die brand het vermoedelik weens ’n elektriese fout ontstaan. Volgens hom was daar nie brandblussers nie.
Hy sê die departement is in gesprek met die departement van maatskaplike ontwikkeling en ander skole vir alternatiewe huisvesting. Die departement voorsien berading aan leerlinge en personeellede wat deur die voorval geraak is.
Hy sê daar is talle gevaarlike voorwerpe op die terrein en die departement gaan geruime tyd op die skool moet fokus om die uitdagings een vir een aan te pak.
Makgoe sê die departement moet verseker dat ’n derde brand nie by die skool uitbreek nie en gaan dus sy begroting aanpas om van die uitdagings te takel.