Brande kan verhoed word

Ondanks die drie brand­bestrydingstenks wat by hul hoewe in Vleistraat, Hope Valley, net buite Bloemfontein gestaan het, is groot skade aangerig tydens ’n brand op 12 Desember.


Ondanks die drie brand­bestrydingstenks wat by hul hoewe in Vleistraat, Hope Valley, net buite Bloemfontein gestaan het, is groot skade aangerig tydens ’n brand op 12 Desember.

Chris van Zyl, voorsitter van die Leeuwberg- landelike vereniging en GPF Sektor 6, sê nege eiendomme in die hoewegebied, insluitend sy eie, het deurgeloop en skade van miljoene rande is aangerig tydens die brand wat by ’n buurman begin is om vullis te brand.

Van Zyl sê die brand het blitsvinnig deur die droë gras versprei en by hom al die inhoud van ’n pakkamer, ’n watertenk, sonpanele en waterpompe vernietig voordat dit ook skade aan hul woonhuis aangerig het. Dié brand het skade oor sowat 100 ha aangerig.

Die waarde van die skade net by sy perseel was sowat R800 000, waarvan die versekering nie eens ’n kwart uitbetaal het nie.

Van Zyl sê hoewel hulle voorbereid is op brande, het die brand so vinnig versprei dat hulle nie eers kans gehad het om by die brandblussers uit te kom nie. “Die brand het binne 19 sekondes van my hoewe na die buurman s’n versprei.”

Johann Breytenbach van die Mangaung-brandbestrydingsvereniging (MAFPA) sê daar was van Junie tot Oktober tydens 2024 se brandseisoen 1 192 brande in die Mangaung-omgewing. Altesaam 27 349.11 ha het gebrand. ’n Bykomende ongeveer 4 000 ha het in November en Desember gebrand.

“Brande is wel nou minder en die intensiteit is laer omdat daar groen gras in die veld is, maar wanneer daar vir twee weke ’n hittegolf is soos wat ons nou gereeld beleef, is die veld droog genoeg om te brand.”

Die veldbrande maak dan baie rook soos die veldbrand wat Maandag naby Tierpoort gewoed het.

Breytenbach sê daar is nou baie organisasies en individue wat wil help om brande saam met die Mangaung-brandweer te bestry. “Dit is egter belangrik dat al die betrokkenes onder een sambreel saamwerk om elke brand te bestry.”

Breytenbach sê dit is elke grondgebruiker se verantwoordelikheid om brandbestryding op sy perseel en eiendom te verhoed.

“Mense besef nie altyd hoe maklik droë veld brand nie. Die veld brand ook meestal nie omdat mense dit aspris aan die brand steek nie. Meer as 90% van veldbrande is weens nalatigheid.”

Hy verduidelik dat hoewegebiede onderhewig is aan munisipale regulasies sowel as die Veld en Bosbrandwet. MAFPA is ’n statutêre liggaam waar eienaars van hoewes kan aansoek doen om ’n permit om byvoorbeeld binne bepaalde riglyne vullis te verbrand.

“Die uitneem van ’n brandpermit is nie daar om moeilik te wees nie. Dit is daar om mense te beskerm. Daar is ook bepaalde tye wanneer die brandgevaarindeks baie hoog is, wanneer niemand ’n oop vuur mag maak of werk op ’n plaas of hoewe mag doen wat vonke kan veroorsaak nie.

“Deur proaktief te wees en basiese planne gereed te hê, kan die risiko van skade aan eiendom en gevaar vir gesinne verminder word,” sê Breytenbach.

Besoek MAFPA se webwerf by mafpa.co.za vir meer inligting en laai die vorm vir ’n brandpermit daar af.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.