’n Pot kookolie wat aan die brand geslaan het, het ’n gesin van Dan Pienaar groot laat skrik.
Clinton Pentz, finansiële bestuurder van Enfin Energy, sê hy het Donderdag (20/10) vroegaand olie in ’n pot gegooi om aartappelskyfies te maak.
“Kort daarna het die weerlig die krag uitgeslaan en ons het gaan wegneemkos koop.”
Ná aandete, het die gesin gaan slaap.
Clinton vertel hy het om 10:30 wakker geword van hul alarm wat afgegaan het. Hy en sy vrou, Ineke, en hul twee seuns Daniel (12) en Ryan (9) het uit die huis gevlug. Rook het uit die kombuis geborrel.
Hy sê hulle het buite die huis gestaan en die brandweer gebel wat die brand geblus het.
Die kombuis het ernstige skade opgedoen, maar die gesin is ongedeerd.
Braam van Zyl, afdelingshoof van die Mangaung-brandweer, sê die brandweer word dikwels ontbied waar ongelukke in die huis groot skade veroorsaak.
In een geval is die brandweer ontbied nadat iemand ’n haardroër aan vergeet het en in ’n aftreeoord het ’n gas-lekkasie veroorsaak dat ’n brand ontstaan het toe die inwoner ’n gaslamp wou aansteek. “Niemand is in die voorvalle beseer nie, maar die skade was enorm,” sê Van Zyl.
Hy sê om skyfies te maak, benodig jy kookolie wat tot tussen 182°C en 188°C verhit is.
“Sodra olie warmer as 230°C word, begin dit rook en teen 338°C slaan olie aan die brand.”
Hy sê wanneer olie aan die brand slaan, moet mense dadelik hul huise ontruim.
“Skakel die stoof se krag af en as jy nie naby die stoof kan kom nie, skakel die huis se hoofskakelaar af.”
Verder beveel hy aan dat ’n mens die kombuis se vensters en deure toemaak indien moontlik, sodat die brand nie verder versprei nie. “Daar is selfs ’n moontlikheid dat die brand self sal uitsmoor.”
Hy sê as die brand nie te groot is nie, kan ’n volwassene probeer om ’n deksel op die pot te sit. “ ’n Mens kan ook ’n droë poeier, koolsuurgas-blusser of brandkombers gebruik. As die poging om die brand te blus nie werk nie, ontruim die vertrek onmiddellik.”
Hy sê mense moet onder geen omstandighede ’n brandblusser gebruik of probeer om water oor die brandende olie te gooi nie. “Die volume water sit 1 700 keer uit wanneer dit omskakel na stoom. Wanneer ’n koppie water dus in ’n warm oliepan gegooi word, kan die inhoud van die oliepan meteens uitgeforseer word en noodlottige gevolge vir omstanders hê.”
Hy sê mense moet onder geen omstandighede ’n pot of pan met brandende olie optel of dit na buite probeer dra nie. “Die lugbeweging veroorsaak dat vlamme skielik vergroot. Mense skrik gewoonlik en gooi die pan weg, wat ook ernstige gevolge kan hê.”