AfriForum se nuwe brandweerdiens in Bloemfontein spog met vele suksesse sedert die diens onlangs in die stad ingestel is.
Tarien Cooks, rampbestuurspesialis van AfriForum, sê die private brandweerdiens het ’n gemiddelde reaksietyd gehandhaaf van net meer as ses minute in die 30 noodsituasies waarop in dié tydperk tot 12 September gereageer is.
“Hierdie sukses beteken dat die spoedige reaksie op die 13 huisbrande, 13 veldbrande, 3 voertuigbrande en 1 reddingsoperasie wat in die afgelope meer as drie maande in Bloemfontein hanteer is, help toesien het dat skade noemenswaardig beperk is.”
Cooks meen hierdie minute het elkeen ’n kritieke rol in die beskerming van menselewens en bates gespeel, “want elke minuut kan die verskil tussen lewe en dood beteken,” verduidelik sy.
“Navorsing toon dat ’n duidelike korrelasie bestaan tussen brandweerdienste se reaksietye en die omvang van brandskade. Dit is juis daarom vir AfriForum-brandweer noodsaaklik om voort te bou op die hoë reaksietyd-standaard wat reeds binne die eerste 100 dae van dié private diens se bestaan gehandhaaf kon word,” benadruk Cooks.
AfriForum-brandweer se standaard toon, volgens Cooks, dat dié brandweerdiens se reaksietyd goed vergelyk met dié wat in eerstewêreldlande aangemeld word en dit selfs in baie gevalle oortref. Hoewel verskeie aspekte in berekening geneem moet word om die sukses van ’n brandweerdiens te bepaal, is reaksietye ’n kritieke element.
Cooks verduidelik dat navorsing van 2010 in Nieu-Seeland toon dat die koste van strukturele skade weens brande met nagenoeg NZ$4 000 per reaksietyd-minuut toeneem.