Een projek waarby die gemeenskap van Bloemfontein ver bo verwagting betrokke geraak het, is die Brei vir Bloem-projek.
Met die projek, wat aangebied word deur Bloemskou, Bloemnuus en Radio Rosestad ter viering van Bloemskou se 140ste verjaardag vanjaar, is mense van Bloemfontein en omgewing aangemoedig om blokkies van 140 mm x 140 mm te brei wat in komberse van 140 cm x 140 cm gevorm word.
Vroue van oral oor het blokkies na Bloemskou, Rosestad en Bloemnuus se kantore gebring en daar gaan waarskynlik heelwat meer as die mikpunt van 140 komberse gemaak kan word.
’n Bybelstudiegroep van die NG kerk Bloemfontein-Noord (Klipkerk) en hul vriendinne het Maandag (03/04) hul bydra tot die projek gelewer.
’n Groep vroue van Jagersfontein het meer as 1 000 gebreide- en gehekelde blokkies geskenk.
Verder was daar ’n lang lys individue wat die afgelope paar maande tot met die einde van die projek Vrydag (31/03) fluks gebrei en gehekel het.
Monique van Vuuren van Bloemskou sê daar was teen Maandag reeds 101 voltooide komberse en nog hope blokkies wat instroom.
Hester Swartz en haar familie het ingespring en die blokkies begin vaswerk.
Nog gemeenskapslede het ingespring, soos Elsa Kukkuk wat gereeld blokkies by Bloemskou gaan haal, vaswerk en help verseker dat hierdie projek ’n reuse-sukses is.
“Die gemeenskap van Bloemfontein en elders, oud en jonk, het hierdie projek ’n saak van naasteliefde gemaak,” sê Monique.
Komberse kan gedurende Bloemskou in die kreatiewe handwerksaal besigtig word.
Al die komberse sal ná afloop van Bloemskou verdeel word tussen Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds en Radio Rosestad se kombersprojek om aan liefdadigheidsorganisasies van hul keuse te skenk.
Bloemskou begin op 27 April en duur tot 6 Mei.
Gaan loer gerus na die komberse in die kreatiewe handwerksaal.