Tine Aardsma (95) met die nuutste trui wat sy gebrei het. Sy het die wol van die trui wat sy aanhet, self gespin en gekleur voordat sy dié trui ook gebrei het. Foto: Lientjie Mentz


Van so jonk soos ses jaar al brei Tine Aardsma (95) so op die Nederlandse manier met die naald onder die arm.

Nou, as inwoner van die Striata-aftreeoord in Bloemfontein, brei sy steeds flink en het sy pas nog ’n trui klaargemaak. Sy het ook al pryse op Bloemskou vir haar netjiese breiwerk gewen.

Aardsma sê sy het in ’n dorpie in Friesland, Nederland, as een van agt kinders grootgeword.

Sy het van jongs af gebrei, maar dit was toe die Tweede Wêreld­oorlog uitbreek, dat alles in Nederland skaars geword het. As 12-jarige meisie moes sy haar ma en suster help om alles denkbaar te brei.

“My ma het die wol gespin, en dan het ons sulke dik sokkies gebrei om saam met die klompe te dra.”

Sy vertel haar pa het ’n houtwerkfabriek gehad, en toe alles begin skaars raak, het hy spinwiele gemaak.

“Hy het spinwiele vir alles geruil – vir kaas, ’n vrag wol, selfs vir steenkool.”

Benewens hul familie, het hul gesin ’n Joodse vrou en haar dogter gehuisves.

“My pa was ’n held – hy het geld ingesamel om mense te versteek sodat die Duitsers hulle nie kry nie.

“Ek onthou goed hoe ons dorp fees gevier het toe die oorlog in Mei 1945 geëindig het.”

Ná die oorlog het sy ’n korrespondensievriend gehad wat uit Suid-Afrika vir haar geskryf het.

“Hy was self tydens die oorlog ’n onderduiker in Friesland.”

In 1954 het Aardsma na Krugersdorp gekom, en sy en Durk is later getroud. Hulle het op baie plekke oor die land heen gebly.

Sy het al die truie vir haar vier kinders self gebrei.

“Brei en hekel is ’n lekker stokperdjie waarmee ’n mens nuttige goed kan maak.”

Sy vertel hoe sy en Durk op ’n keer by familie in Noord-Natal gaan kuier het en hy daar ’n spinwiel gesien het en dit by hulle gekoop het.

“Durk het aan die begin die spinwerk gedoen, maar hy het nie vinnig genoeg na my sin gespin nie, so ek het self begin spin,” vertel sy.

“Uiteindelik was dit net te tydrowend. Die wol in Suid-Afrika is baie vuiler in vergelyking met die wol wat ons in Nederland gehad het. Hier loop die skape in lang gras en die wol moet baie keer gewas word.”

Hoewel sy nie meer spin nie, het haar liefde vir brei nooit gekwyn nie.

Durk is in 2010 oorlede, en sy het in 2014 na Bloemfontein verhuis.

Sy bly baie lekker in Striata en behoort aan die Striata-breiklub, wat gereeld artikels vir die NG kerk Universitas-Wes se barmhartigheidsprojekte brei.

You need to be Logged In to leave a comment.