Flukses van oor die land heen het gehelp om 904 serpe te brei vir Childline Free State. Die serpe gaan help om talle kinders warm te hou hierdie winter.
Valmea Kinnear het ‘n projek begin waarmee sy gemik het om 1 000 serpe bymekaar te maak.
“Ons het baie naby gekom, en ek glo ons gaan nog kry,” het sy verlede week gesê toe die vragte serpe aan Millicent Wright van Childline Free State oorhandig is.
Kinnear se man, William, het ‘n resuse-bydrae gelewer deur die eerste 100 serpe, op ‘n breimasjien, in net 28 dae te maak.
“Van daar af het mense van so ver soos Durban, Nylstroom en Kroonstad gehelp om serpe te maak,” vertel Valmea.
“In Kroonstad het 35 vroue gehelp om sommer heelwat van die serpe te brei.”
Een vrou het laat weet sy het ‘n serp gehekel om deur haar eie trauma te werk. Sy het net een serp gemaak, maar sy sê dit het vir haar siel baie beteken.
Wright sê dit is wonderlik dat mense in die gemeenskap so passievol is om tyd af te staan om kinders warm te hou.