AfriForum het Donderdag (03/11) ’n brief ter verwerping van die onteieningswetsontwerp by die kantoor van die Vrystaatse Premier ingedien.
Die brief wat Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoordineerder vir Bloemfontein, namens AfriForum afgelewer het, beklemtoon dat die wetsontwerp verwoestende gevolge vir die reeds sukkelende ekonomie sal hê, burgers wreed van hul eiendomsreg sal ontneem, meer weë vir korrupsie moontlik sal maak en die finansiële sektor sal destabiliseer.
Daar moet kennis geneem word dat hierdie wetsontwerp nie net tot landbougrond beperk is nie, maar op alle eiendom van toepassing gemaak kan word.
“Die eerste poging deur die regering om privaateiendomsreg te vernietig deur die wysiging van die Grondwet het in 2021 in die parlement misluk. Dit was juis vanweë die oorweldigende openbare druk. Daarom maak ons op die publiek staat om meer vasberade as ooit vir ons fundamentele reg tot private eiendom te veg,” sê Groenewald.
Saam met die plaaslike aksie voer AfriForum nou ’n omvattende internasionale, nasionale en plaaslike veldtog ter verwerping van die onteieningswetsontwerp. AfriForum gaan verder deur die organisasie se internasionale kontakte en platforms die gevaar benadruk wat die onteieningswetsontwerp vir private eiendomsregte inhou en sodoende buitelandse druk op die regering plaas. AfriForum het ook onlangs ’n manifes teen hierdie onteieningswetsontwerp wat deur verskeie prominente organisasies onderteken is bekend gemaak. Daarmee saam het AfriForum ook ’n prokureursbrief aan die president gestuur wat die ongrondwetlikheid van die wetsontwerp uitwys, asook ’n beroep op hom doen om die wet te veto en terug te stuur na die parlement.
“Die onteieningswetsontwerp sal vernietigende gevolge vir die ekonomie hê en burgers van hul eiendomsreg ontneem. Hierdie wetsontwerp is ook nie alleenlik tot landbougrond beperk nie. Dit sluit alle vorme van eiendom in, soos roerende eiendom, infrastruktuur, huise, ensovoorts. Daarom doen ons ’n beroep op almal om soorgelyke briewe aan hul provinsiale regerings te stuur,” sluit Groenewald af.
AfriForum moedig die publiek aan om aan hul provinsiale regerings te skryf om die onteieningswetsontwerp by die Raad van Provinsies te verwerp. Besoek www.onteiening.co.za.