Broodjies smeer nood toe

Vir die prys van een kosblikkie kan ’n mens ’n groot verskil maak in die lewe van kinders wat swaarkry.


Vir die prys van een kosblikkie kan ’n mens ’n groot verskil maak in die lewe van kinders wat swaarkry.

Kobus Venter, streek­bestuurder van Solidariteit Helpende Hand in die Sentrale streek, sê met ’n poging tot ’n wêreldrekord om 1 300 kosblikkies in die vorm van ’n hand te pak op 1 November, gaan dié organisasie geld insamel vir sy groot projekte om kinders te voed en te help om ’n stabiele skool­loopbaan te hê.

“In ’n wêreld van oorvloed en oormaat is dit maklik om die eenvoudige daad van aansit vir ’n maaltyd as vanselfsprekend te aanvaar. Maar vir ’n behoeftige kleuter verteen­woordig ’n bord kos veel meer as net kos – dit simboliseer hoop, sekuriteit en die belofte van ’n beter toekoms.”

Landswyd voorsien Solidariteit Helpende Hand daagliks etes aan 8 000 kleuters, waarvan 1 000 in die Vrystaat en 300 in Bloemfontein alleen.

Venter sê die skole ontvang geld om self die bestanddele te koop wat aan geïdentifiseerde kinders en kleuters voorsien word. In Bloemfontein ontvang sulke kinders by die Laerskool Dr. C.F. Visser, Saailand-pre-primêr en die Dankbaar CVO-skool weeksdae etes.

Solidariteit Helpende Hand gee ook tydens skoolvakansie vir kinders van dié Kosblikkie-projek se gesinne kospakkies en Vrydae gee hulle broodjies vir 100 kinders by Dr. Visser.

“Die #StopHonger en die Kosblikkie-projek is daarop gemik om toe te sien dat kleuters daagliks ’n voedsame bord kos ontvang. Die hooffokus van die projek is om behoeftige kleuterskole met die voeding van kleuters te ondersteun. Kleuters word danksy die voedingsprojek as fisiek sterker bestempel. Hulle groot en klein motoriese vaardighede asook hul intellektuele en emosionele ontwikkeling baat by die voedsame maaltyd. Dit beteken dat hulle gehoorsamer is, hulle take makliker kan verrig en dat hulle selfvertroue verbeter.”

Ook wat leerlinge betref, maak Solidariteit Helpende Hand ’n reuse-bydrae om kinders te help om op skool hul bes te doen.

Venter sê hy het vanjaar aansoeke van sowat R800 000 ontvang van skoliere wat hulp benodig om by die skool te kom, koshuisgeld en ander noodsaaklike uitgawes soos skoolklere. Hy sê hulle kan vanjaar sowat R600 000 se hulp aanbied waarvan R200 000 net aan kinders in Bloemfontein.

“Helpende Hand ontvang ook versoeke om kinderhuise, ouetehuise en behoeftige gesinne te help, en daarom is bykomende veldtogte soos #StopHonger en #HelpJag begin om die Kosblikkie-projek aan te vul.

“Elke maaltyd wat aan ’n behoeftige kleuter gegee word, is ’n vriendelike gebaar wat die krag het om lewens te verander en die toekoms van ons land te vorm.”

Hy verduidelik die Vrystaat-streek gaan in ’n wêreldrekordpoging 1 300 kosblikke op mekaar pak. Die poging sal amptelik deur die organisasie SA Records geverifieer word.

“Ons versoek onder­nemings en individue om ’n kosblikkie teen R100 elk te koop en dit self te kom pak.”

Die dag word by The Barn op die Bloemfontein-skou­terrein aangebied. Dit begin om 12:00 en deelnemers kan ’n ete by The Barn eet. Later die middag sal plaaslike sangers optree, en om 18:00 tree Jacques du Plessis op.

Geen toegangsgeld word gevra nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.