’n Groot skare Bloemfonteiners het die nuwe maand begroet met ’n atmosfeer wat brul met opwinding.
Elke keer dat die toere opgejaag is op die Cars in the Park-uitstalling Maandag (01/05), het groepies nuuskieriges nader gestaan om die uitsonderlike enjins en spogmotors te bewonder. Ook die lede van die Vrystaatse Veteraanmotorklub het hul skatte op die dag uitgestal.
Terwyl die lewensgrootte vuurwaens op die Marti du Plessis-skool se sportveld beïndruk het, het die heel kleinste motortjies harte ook laat vinniger klop waar uitstallings van speelgoed en modelmotors in die sale aangebied is. Die uitstalling is aangebied deur die Bloemfonteinse Modelmotorklub.
Versamelaars kon na hartelus na skatte soek, terwyl kinders gaande was oor die groot verskeidenheid wat te sien was – van poppe tot strokiesprente en draadkarre.