’n Buitelandse burger (44) is Woensdag (13/07) om 16:30 in hegtenis geneem nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) inligting gekry het oor ’n pakhuis in Ooseinde, Bloemfontein waar vermoedelik gesteelde goedere ter waarde van R80 miljoen geberg word.
Brig. Motansi Makhele, SAPD se provinsiale hoof van kommunikasie, sê in ’n verklaring die Vrystaatse Provinsiale Georganiseerde Misdaadeenheid saam met Bloemfontein se Taktiese Reaksiespan en die Plaaslike Kriminelerekordsentrum het gereageer op inligting dat die pakhuis moontlik gebruik word om goedere van gekaapte vragmotors te berg.Met hul aankoms by die pakhuis, het die polisie die eienaar van die pakhuis en die verdagte aan wie die voorraad behoort, daar aangetref.
In die eiendom is 1 680 houers met dieselenjin-katalisators ter waarde van ongeveer R80 miljoen gevind. Die verdagte het geen dokumente gehad om eienaarskap van die voorraad te bewys nie en is daarna in hegtenis geneem.Met verdere ondersoek is bevind die voorraad kom van ’n vragmotor wat in Mei vanjaar onderweg van die Oos-Kaap na Gauteng gekaap is.
Die vragmotorbestuurder het langs die pad naby Venterstad stilgehou en is na bewering deur ’n groep onbekende mans wat in ’n bakkie gery het, oorval. Die vragmotorbestuurders is in die vermeende aanvallers se voertuig gedwing en hulle het in die rigting van Bloemfontein gery waar hulle die verdagte ontmoet het.
Die vragmotor is later sonder die vrag aan die vragmotorbestuurder terugbesorg en die polisie is van die voorval ingelig.Makhele sê die span volg alle leidrade op wat kan lei tot die in hegtenisneming van nog verdagtes.Die verdagte is in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde eiendom en sal binnekort in die hof verskyn.