Die VF Plus het by monde van raadslid Braam Vorster Vrydag 28 Maart tydens die spesiale raadsvergadering van die Mangaung-metro gesê die VF Plus verwerp die voorgestelde watertariefverhoging van 11% ten sterkste.
Dit is volgens ‘n voorlegging, wat die metro se finansiële hoof, Zuziwe Thekisho aan die raad voorgehou het vir die konsepbegroting vir die 2025/26-geldjaar.
“Hierdie verhoging is aansienlik hoër as die huidige inflasiekoers van 3,08%. Huishoudings en ondernemings in die metro gaan reeds gebuk onder finansiële druk met hoë lewenskostes en uitgawes,” het Voster op die vergadering gesê.
“Die VF Plus is dit eens dat die metro alles in sy vermoë moet doen om die verhoging van tariewe te voorkom en onnodige besteding moet beperk word.”
In Thekisho se voorlegging het sy onder meer erken dat faktore soos die lae invorderingskoers, hoë werknemersonkoste, swak beplanning met besteding van toelae en ’n gebrek aan algemene bestuurders in die water- en sanitasiedirektoraat van die belangrikste kwessies is wat die voorgestelde begroting beïnvloed.
“Die belastingbetaler kan nie gestraf word met hierdie tariefverhoging weens die swak finansiële dissipline van die ANC-beheerde metro nie,” het Voster gesê.
“Buitensporige tariefverhogings is nie die antwoord op jarelange ANC-wanbestuur nie.”.
Die party doen ’n beroep op die inwoners en belastingbetalers van die Mangaung-metro om seker te maak dat hulle deelneem en beswaar maak teen hierdie verhoging gedurende die komende openbare deelnameproses waar die konsepbegroting aan inwoners voorgelê gaan word.
Ander verhogings wat op die vergadering voorgestel is, sluit in die 12.9% verhoging van elektrisiteit soos deur die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) goedgekeur is asook ‘n 4.4% verhoging op eiendomsbelasting.
Die tariewe kom te midde van ‘n poging deur die metro om inwoners te dwing om hul munisipale rekening op hoogte te hou deur hul watertoevoer af te sny. Lees meer hier.