Dr. Katinka Botha en Elmien du Plessis, direkteur van Bloemcare op Maandag se geselligheid.Foto: Lientjie Mentz


Die heel nuutste toevoeging tot Bloemcare se diens, is die bekendstelling van ’n nuwe buitepasiënt-program wat gedeeltelike hospitalisasie vir vyf en ’n half ure per dag, vyf dae ’n week behels.

Dr. Katinka Botha, voorsitter van Bloemcare se hospitaalraad, het Maandag tydens die 25ste verjaardagviering van Bloemcare gesê geestesgesondheid bly ’n groot knelpunt in die samelewing.

“Depressie is die grootste oorsaak dat mense medies ongeskik raak en is ook die grootste oorsaak van selfdood onder tieners. Die behoefte aan opvolgbesoeke ná ’n pasiënt se ontslag uit die hospitaal, is so groot dat ons besluit het om ’n bykomende diens te bied.”

Botha sê met dié program sal Bloemcare ondersteuning en terapie verskaf, wat pasiënte sal help in ’n groep-omgewing.

“Ons fokus in die nuwe program op die welstand van die pasiënt se liggaam én gees. Ons sal pasiënte tegnieke leer om stres te hanteer, hoe om moeilike emosies te hanteer en selfs hoe om moeilike kollegas in die werkplek te hanteer. Hier wil ons vir mense leer om goed te wees vir hulself.”

Botha sê met die program wil Bloemcare terugploeg in die gemeenskap. Barbara Steenkamp, die hospitaalbestuurder, sê die nuwe buitepasiënt-program begin op Maandag 29 Julie met weeklange sessies wat afwisselend in Afrikaans en Engels aangebied sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.