Pappie Mokoena, wat op Vrydag 14 April tot uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro verkies is.Foto: Lientjie Mentz

Die ANC in die Vrystaat het gisteraand in ’n nuusverklaring aangekondig dat ’n tussentydse bevel in die Vrystaatse Hooggeregshof toegestaan is wat die nuutverkose burgemeester van die Mangaung-metro, Pappie Mokoena, van sy pligte onthef.

Hy bly egter nog die burgemeester totdat die hofsaak volgende week voortgesit word.

Polediso Motsoeneng, die ANC se provinsiale sekretaris, sê die verkiesing van Mokoena as uitvoerende burgemeester van die Mangaung-metro was onwettig.

Johan Pretorius, die DA se koukusleier in die Mangaung-metro, het Woensdag in ’n nuusverklaring gesê die ANC gebruik boelie-tegnieke nadat hy sy uitvoerende posisies in die metro kwyt is.

Moekoena, van die Afrikan Alliance of Social Democrats (AASD), is op Vrydag 14 April tot uitvoerende burgemeester van die metro verkies. Sewe ANC-raadslede wat vroeër uit die party geskors is, was ook op dié raadsvergadering nadat die Onafhanklike Verkiesingskommissie in ’n brief bevestig het dat hulle nog nie van hul pligte onthef is nie.

Daar was 52 van die 101 raadslede toe die meeste ANC-raadslede die raadsvergadering geboikot het. Die vergadering het in die Bram Fischer-gebou voortgegaan terwyl die polisie toegangsbeheer by die gebou toegepas het om raadslede te beskerm.

Op die vergadering is David Mosoeu van die DA ook as hoofsweep van die raad verkies.

Ná die verrigtinge Vrydag het die balju van die hof probeer om interdikte aan die sewe ANC-raadslede te beteken wat hulle sou verhoed om die vergadering by te woon, maar net een raadslid het dit in ontvangs geneem.

Met raadslid Maryke Davies van die DA wat vroeër tot speaker van die raad verkies is, vul opposisiepartye nou die drie topposte in die raad.

Motsoeneng sê die ANC het van die begin af gesê die raadsitting op 14 April was onwettig.

Hy sê die ANC sal nooit toelaat dat sy verkose lede deur die opposisie voorgeskryf word nie, en die ANC sal voortgaan om streng teen raadslede wat teen die ANC se wense handel op te tree.

’n Hofsaak gaan vandag voort waarin die ANC die verkiesing van die speaker teenstaan.

You need to be Logged In to leave a comment.