Kort voor die begin van die Curriebeker-kompetisie het die Vrystaat Cheetahs Vrydag (17/02) ’n splinternuwe bus van Toyota Suid-Afrika in ontvangs geneem.
Die Hino Predator-bus is die enigste in Suid-Afrika wat spesifiek vir rugbyspelers ontwerp is, met wye sitplekke en genoeg beenruimte. Die ruglenings van sitplekke kan teen ’n hoek van 180° agteroor verstel sodat spelers ná wedstryde kan rus en herstel.
Die bus bied boonop geleentheid vir die gerieflike vervoer van die Vrystaatse vrouerugbyspelers en die Toyota-akademie se spelers.
Ross van Reenen, uitvoerende hoof van die Vrystaat Cheetahs, sê die bus is sprekend van die sterk verhouding tussen die Cheetahs en Toyota Suid-Afrika, en hul toewyding om rugby in die Vrystaat en die breër Suid-Afrika te bevorder. Toyota Suid-Afrika borg die Cheetahs al sedert 2011.
Leon Theron, senior visepresident van verkope en bemarking van Toyota Suid-Afrika, sê dié maatskappy glo in die ondersteuning en bemagtiging van gemeenskappe.
“Die Cheetahs is ’n bron van trots vir die mense van die Vrystaat, en ons is op ons beurt trots om hulle te ondersteun met hierdie spesiaal ontwerpte bus.”
Die Curriebeker begin op 10 Maart in Kimberley met ’n wedstryd tussen die Griekwas en die Cheetahs.