Heerlike musiek gaan opklink op die eerste Good News-fees waarop Langenhovenpark se The Good News Club gaan geld insamel om dié woonbuurt verder op te knap.

The Good News Club (TGNC) het al reuse-werk gedoen om dié woonbuurt skoon en netjies te maak, soos slaggate wat opgevul is en die posbusse wat geverf is.

TGNC onderhou heeltyds vier openbare parke, tuine by die biblioteek en kliniek, die omgewing by die posbusse, asook verkeers­eilande op hoofroetes in Langen­hovenpark (Du Plessislaan uitgesluit).

“Dit is alles volhoubare projekte, aangesien ons benadering daarop gefokus is om op die duur ’n verskil te maak. Van tyd tot tyd, en namate hulpbronne beskikbaar gestel word, help TGNC ook met die opvul van slaggate, asook met eenmalige opruimings­geleenthede, padverf-projekte en ander instandhoudingswerk in die woonbuurt,” sê Henry de Wet van TGNC.

“Ons het twee permanente werknemers in diens. TGNC wil graag die span aanvul deur nog twee werkers aan te stel, sodat daar daagliks meer onderhoud en verfraaiing van Langenhovenpark kan plaasvind.

“Die Good News-fees word dus hoofsaaklik vir die insameling van geld vir die salarisse van die ekstra twee werkers beoog, asook bykomende toerusting om ’n groter positiewe invloed te hê.”

Die fees, waarvan Bloemnuus die gedruktemediaborg is, word Saterdag (04/03) van 15:00 af op die Towers-inkopie­sentrum se parkeerterrein aangebied.

Die musikant Reggie sal van 16:00 tot 17:00 optree, die broers Hanno en Bernard Mol van Karoo gaan gaste van 17:30 tot 18:30 vermaak en Ricus Nel is om 19:00 aan die beurt op die verhoog.

De Wet, wat die fees saam met Gert Duvenhage reël, sê hulle is opgewonde daaroor om so ’n lekker geleentheid vir die publiek aan te bied.

Daar sal tafels en stoele wees, ’n speelruimte vir kinders, kos­stalletjies en ’n biertent.

Kaartjies kos R150 en is op computicket.com te koop. Tafels vir ses is teen R900 beskikbaar. Kinders jonger as tien jaar kry gratis toegang.

“Dit is nie net vir inwoners van Langenhovenpark nie, maar vir almal in Bloemfontein. Maak gerus ’n draai,” nooi De Wet.

Rig navrae aan hom deur 073-462-5432 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.