Personeel van Raubex verf Dinsdag verkeerstrepe in Brandwag. Belanghebbendes werk nou saam om die buurt op te knap. Foto: Verskaf


Danksy die goeie same­werking tussen verskeie belanghebbendes wink ’n blink toekoms vir die vervalle Brandwag-woonbuurt.

Anneke Anker, direkteur van die Bloemfontein Neighbourhood Association Group (BNAG), sê die samewerking tussen onder meer die Mangaung-metro, polisie, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die buurtwagverenigings is uiters belangrik vir die voorbestaan van alle buurte.

Die Raubex-groep het Dinsdag begin om onder meer verkeerstrepe in Nettletonstraat en Klercklaan in Brandwag te verf.

“Dit is slegs die begin, maar ons sou dit nie kon regkry sonder die gemeenskap van Brandwag se skenkings en die Brandwag-woonbuurtvereniging se spaargeld nie,” sê Anker.

Die metro se afdeling vir bou en beplanning, in samewerking met verskeie betrokkenes soos die Park­wegpolisie se sektor 2, personeel van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (Sars) en binnelandse sake, asook lede van die GPF, het by talle ondernemings ondersoek ingestel na onwettige handel in produkte, onwettige bouery, asook die onwettige bedryf van ondernemings op residensiële persele.

“Brandwag sal weer prentjiemooi wees, en streng reëls en regulasies sal in die buurt toegepas word,” sê Anker.

You need to be Logged In to leave a comment.