Kwaggafontein se buurtwagvereniging het op 17 Desember ’n onvergeetlike Kersparty gehou.
SP Nel, voorsitter van die Kwaggafontein-buurtwag, vertel hulle het vroeër verlede jaar ’n gemeenskapsbraai gehou en daardeur besef dat die gemeenskap ’n groot behoefte aan dié soort samekomste het.
“Ons het besluit dit is in ons beste belang om mekaar beter te leer ken,” sê SP.
“Ons het ook besef dat ons baie jong mense en kinders in ons omgewing het. Só het ons sosiale leier, Corné Kruger, en van die ander vroue in die gemeenskap, onder andere Lizanne Nel, begin gesels om iets spesiaals vir ons jongklomp vir Kersfees aan te bied.
“Oom Jannie Ferreira het die gesprek aangehelp deur aan te bied om as Kersvader deur die buurt te ry en geskenkies af te gee by elke huis.
“Corné en haar span het dié plan sommer vinnig verwesenlik. Sy het gereël dat 90 pakkies vol lekkers en klein geskenkies vir die kinders opgemaak word. Oom Jannie het toe sy mooi, rooi trekker beskikbaar gestel met ’n groot wa wat 30 mense gemaklik kon vervoer. Ons het verder ook ’n plat wa gevat en vir Kersvader en sy klein helpers bankies daarop vasgemaak.
“Ons as gemeenskap is baie bevoorreg om betrokke lede te hê wat nie skroom om ’n bydrae in ander se lewe te maak nie.”
SP vertel een van hierdie gesinne het al die pakkies en ysies geborg en dit ook pragtig verpak.
“Saam met my het Hannes Etsebeth vir Corné en oom Jannie gaan help om die waens mooi op te maak. Ons kinders was ook baie behulpsaam in die verfraaiing van die waens.
“Om 17:30 het die weer ons ’n kansie gegee en Kersvader het aan die werk gespring. Sy seun, Jannie Ferreira, het die wa – volgelaai met kinders – met die rooi trekker gesleep. Hannes het in sy Isuzu deur Kwaggafontein se strate gery en Kersmusiek laat opklink. Kersvader se ‘slee’ is deur Louis du Plooy en sy gesin getrek.”
Felix Burri het oral Kersvader se koms met die lui van ’n klok aangekondig.
“Sommer gou was die hele gemeenskap in die strate om die Kersgees in te drink. Kersvader het sy laaste ronde kort voor 21:00 voltooi.”
SP sê die projek het beslis samehorigheid in Kwaggafontein na vore gebring en hulle glo die tradisie sal voortleef en uitbrei.
“Kwaggafontein en sy mense wil die res van Bloemfontein aanmoedig om soortgelyke projekte te begin en só weer samesyn en omgee in die hele Bloemfontein te bevorder.
“So ’n klein begin kan help om in Bloemfontein ’n positiewe gesindheid te kweek en die stad ’n beter plek vir almal te maak.
“Kwaggafontein se bestuur bedank elkeen wat betrokke was om dié aand onvergeetlik te maak.”