Die FICH-net-radionetwerk het op ’n geselligheid Saterdag die tiende bestaansjaar van dié netwerk gevier.
Die radionetwerk het op 22 Oktober 2013 met 35 radio’s in Fichardtpark begin en vandag is daar 558 radio’s wat gebruik word om veiligheid en nood in dié woonbuurt te bestuur.
Johan Snyman, wat die Fichardtpark Woonbuurtvereniging (FWA) in 2010 gestig het, het op die geselligheid by die NG kerk Fichardtpark sy dank uitgespreek teenoor almal wat die radionetwerk help bou het.
Dit was een van sy drome en belangrik om misdaad tot op die hoogste vlak te bekamp.
Snyman sê die sukses is duidelik danksy statistieke. Teen Saterdag was daar 81 misdaadvrye dae in Fichardtpark.
Jannie Minny, voorsitter van FICH-net en self ’n radio-amateur, het tydens die geleentheid ’n spesiale eerbewys van Dennis Green, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Radioliga, vir sy gemeenskapsbetrokkenheid ontvang. Slegs drie radio-amateurs in die land het al hierdie eerbewys ontvang.
Minny het verduidelik hoe belangrik die tweerigting-radionetwerk is.
“Wanneer iemand ’n krisis het, is dit baie makliker om een knoppie op die tweerigting-radio te druk as om ’n selfoonnommer in te tik. Boonop is hierdie radio’s ’n betroubare alternatief as die selfoonnetwerke nie werk nie.”
Johanna Venter is vereer vir haar tien jaar diens by FICH-net.
Daar is 12 inroep-leiers op die geleentheid vereer vir die onbaatsugtige diens wat hulle lewer.
FICH-net het tweerigting-radio’s aan die vier skole in Fichardtpark (Hoërskool Fichardtpark, Laerskool Fichardtpark, Hoërskool Rosenhof en Martie du Plessis-Skool) oorhandig asook aan motorwagte by die Southern-sentrum en die Life Rosepark-hospitaal.
“Die radio-netwerk beteken net iets as lede dit gebruik. Hoe beter ons kan kommunikeer, hoe beter vir almal.”
Hy sê verskeie lewens is al gered danksy die radio-netwerk.
“Mediese noodgevalle kry onmiddellik aandag,” sê hy.
FICH-net skakel in by die FWA se plan om Fichardtpark misdaadvry te maak.