Buurtwaglede kry dikwels met motorongelukke en ander traumaverwante voorvalle te doen.
Om patrolleerders touwys te maak oor hoe om bloeding te stop, het AfriForum se buurtwaggroepe in Fichardtpark en Wilgehof op 5 Februarie opleiding by Critical Training Concepts ontvang.
“Dié soort opleiding bemagtig ons patrolleerders met die noodsaaklike en belangrike kennis om ernstige bloeding vinnig te identifiseer en te behandel,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
“Ongelukke en misdaad vind toenemend plaas en hierdie soort kennis kan ’n groot verskil in iemand se lewe maak.”
Joseph Renauld, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid in die sentrale streek, sê die organisasie bly aan die voorpunt met projekte om sy buurtwaglede te bemagtig en veilig te hou.
“Ons lede is gewoonlik eerste op tonele om bystand te verleen, en hierdie opleiding maak ’n verskil. AfriForum se fokus vir 2022 is opleiding om ons lede voor te berei om hul taak beter te verrig.”