’n Bloemfonteinse klub rig al 60 jaar jong stoeiers in dié sportsoort af.
Ter viering van die mylpaal in die bestaan van die Van Rooyen-stoeiklub, wat deesdae in ’n saal op die Bloemfonteinse skouterrein gesetel is, is ’n uitnodigingsbyeenkoms op 19 Augustus aangebied.
Sowat 80 stoeiers van oor die land heen het aan die kompetisie deelgeneem, en 40 van die Van Rooyen-stoeiklub se lede het meegeding.
Die enigste meisies tusssen dié klomp seuns is Veroniq-Quinn van den Berg (13), wat tuisonderrig ontvang en verlede jaar begin stoei het.
Sy sê dit is haar oom wat ook stoei wat haar geïnspireer het om dié sportsoort te begin beoefen.
“Dit is lekker. Dit maak my kop skoon,” sê sy oor stoei.
Veroniq het verlede jaar aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem.
Op die Van Rooyen-uitnodigingsbyeenkoms moes sy teen ’n seun stoei, en sy het ’n silwermedalje in haar ouderdomsgroep verwerf.
Altesaam 14 van die klub se seuns het goue medaljes ontvang, ses stoeiers het silwer verwerf en drie het bronsmedaljes ontvang.