Bybel kunstig gevier

Pragtige kunswerke wat spesiaal vir die viering van die 90ste bestaansjaar van die Bybel in Afrikaans geskep is, is Saterdag (26/08) op ’n fees by die Oorlogsmuseum van die Boere­republieke in Bloemfontein oorhandig.


Pragtige kunswerke wat spesiaal vir die viering van die 90ste bestaansjaar van die Bybel in Afrikaans geskep is, is Saterdag (26/08) op ’n fees by die Oorlogsmuseum van die Boere­republieke in Bloemfontein oorhandig.

Dit sluit in ’n besonderse kunswerk van twee mossies deur Ilse Kleyn.

As deel van die geleentheid is ’n uitstalling van interessante Bybels uit die tydperk van die Anglo-Boereoorlog in die Oorlogsmuseum geopen.

Dr. Johan van Zÿl, bestuurder van vakkundige dienste by die Oorlogsmuseum, vertel die Bybel in Afrikaans is op 27 Augustus 1933 in die Ou Markgebou in Bloemfontein bekend gestel. Duisende mense het destyds dié geleentheid bygewoon.

’n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans is weer in 1953 uitgegee, gevolg deur vertalings in 1983 en 1992. Die nuutste Afrikaanse vertaling het in 2020 verskyn, met feesvieringe wat by die Bybelhuis plaasgevind het.

Issie Steenberg van die Oranje Kwiltersgilde het Saterdag ’n kwilt wat sy gemaak het, met die vertaling van die Bybel in Afrikaans in gedagte, aan ds. Gerrie van Dyk van die Bybel­genootskap oorhandig.

Dr. Elrika Senekal-Van der Berg, verhoudingsambassadeur van die Bybelgenootskap, sê dié kwilt gaan nou saam met ander kunswerke in die Bybelhuis pryk.

Daar is onder meer 14 skilderye wat die Vrystaatse kunstenaar wyle Vader Frans Claerhout gemaak het van 14 teksverse wat hom geïnspireer het.

Ds. Piet Strauss het op die geleentheid by die Oorlogsmuseum Saterdag ’n praatjie gelewer oor die vertaling van die Bybel in Afrikaans wat in 1933 bekendgestel is.

Senekal-Van der Berg sê die Mikro-Camino waaraan mense Saterdag kon deelneem, gaan beslis uitgebrei word en later die jaar op ander plekke herhaal word. Deelnemers het deur die loop hiervan klein plakkers met kunswerke deur Kleyn ontvang.

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika was ook Saterdag op die fees om feesgangers te help om inligting oor hul herkoms op te spoor, asook om meer oor dié soort studie en navorsing uit te vind.

Die Rhapsody-orkes het opgetree en ’n feestelike atmosfeer geskep.

Die uitstalling van Bybels uit die Anglo-Boereoorlog, asook ander gedenkwaardighede en aandenkings uit die Vrystaat-Kerkargief, sal nog tot Maart 2024 in die Oorlogsmuseum besigtig kan word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.