Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vier Sondag (23/08) sy 200ste bestaansjaar met ’n spesiale verbyry-skenkingsgeleentheid.
In die voorafbeplanning was daar groot planne om ’n naweek van feesviering te hê, maar die Covid-19 pandemie en meegaande inperkingsregulasies het ’n stokkie daarvoor gesteek.
Daar is egter besluit dat so ’n besonderse geleentheid nie ongevierd verby kan gaan nie. Dit is hoe die Bybelgenootskap besluit het op ’n verby-ry-verjaarsdagpartytjie.
Ds. Gerrie van Dyk, streekshoof van Die Bybelgenootskap, nooi ’n ieder en elk uit om Saterdag (22/08) en Sondag (23/08) van 09:00 tot 13:00 by die Bybelhuis in Nelson Mandelarylaan ’n draai te maak en daar ’n geskenk, in die vorm van ‘n donasie, af te gee.
“Verbyryers kan net vinnig stop en hul geskenk afgee of kan ook uitklim en ’n Bybel of twee koop, alles binne die regulasies van sosiale distansiëring natuurlik,” sê hy.
Uitnodigings is gerig aan motor- en motorfietsklubs, atlete en stappers, fietsryers, en gesinne om by die Bybelhuis te gaan verbyry om so, op ’n verantwoordelike manier, steeds die spesiale geleentheid van die Bybelgenootskap se tweede eeufeesviering te vier.
Atlete wat beoog om die naweek aan die Bybelgenootskap se Virtuele Hardloop en Stap vir Hoop deel te neem, kan die Bybelhuis by hul roete insluit.
Vir meer inligting skakel 051-444-5980 of stuur ’n e-pos na bibbfn@biblesociety.co.za