Die Bram Fischer-gebou, hoofkantoor van die Mangaung-metro.

‘n Slegte verrassing wag op inwoners van die Mangaung-metro wat van meters vir voorafbetaalde water gebruik maak.

Die metro het op 1 Julie ‘n kennisgewing uitgestuur waarin aangekondig word dat waterverbruikers nou ook ‘n beskikbaarheidsheffing vir dié meters gaan betaal.

Frans Bothma, DA-raadslid, sê inwoners met roterende watermeters betaal nog altyd so ‘n heffing.

“Dit was nog altyd in die metro se begroting, maar die betaling vir voorafbetaalde meters is nooit in werking gestel nie, tot nou,” verduidelik Bothma.

Dit beteken dat verbruikers met meters vir voorafbetaalde water van 1 Julie af ‘n ekstra R60,66 betaal, nog voordat hulle water kry. Iemand wat dus R100 se water wil koop, betaal nou R160,66.

Alle besighede wat meters vir voorafbetaalde water het, betaal benewens die bedrag waarmee hulle water wil koop R1 346,70.

Hierdie betaling word in gebruik geneem bykomend tot die 11%-verhoging in die tariewe op water wat ook van 1 Julie af geld.

Bothma sê die bykomende heffing gaan ‘n ekstra las plaas op inwoners wat reeds geldelik sukkel.

“Dit is om infrastruktuur in stand te hou. Hoewel die ekstra betaling die metro se geldsake sal help, beteken dit nie veel as 49% van die metro se water steeds verlore gaan weens waterlekkasies nie.”

Verder betaal inwoners vandeesmaand 12,4% meer vir elektrisiteit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article