
Caroline-Grace en Heinrich Brüssow se dogtertjie Iza Grace is Sondag (28/02) gebore.
Verskaf
Die Brüssow-egpaar straal van trots nadat hul tweede pienkvoet, en eerste dogtertjie, hulle tien dae te vroeg kom verras het.
Caroline-Grace, voormalige deelnemer aan The Voice South Africa, en haar man, die oud-Springbok Heinrich Brüssow, albei oud-Bloemfonteiners, het Sondag (28/02) hul dogtertjie, Iza Grace, in die wêreld verwelkom. Die plan was eintlik dat sy op 8 Maart deur middel van ’n keisersnee haar eerste lewenslig sou aanskou.
“Niks is in ons hande nie en ons bepaal ook nie wanneer dinge moet gebeur nie, maar ons is ongelooflik opgewonde oor haar koms,” het Caroline-Grace gesê.
Brüssow, wat vir die Springbokke as losvoorspeler uitgedraf het, pas goed in die rol as dogtertjie-pappa en straal van trots.
“Ek dink dit is ’n ander gevoel vir ’n pa wanneer sy eerste dogter gebore word,” het sy gesê.
“Hy het haar reeds so verskriklik lief en is net dankbaar dat sy gesond en veilig by ons is.”
Volgens haar is sy en haar baba blakend gesond, en gaan dit makliker met baba-nr. 2.
“Ek dink met die tweede kind weet ’n mens wat om te verwag en wat om te doen. En sy is net so bitter soet en slaap so goed, so sy maak dit natuurlik ook maklik!”
By die Brüssow-huis in George wag ’n groot verrassing op boetie Marcel, wat in Desember ’n jaar oud geword het, wanneer sy nuwe sussie vandag huis toe kom.
“Marcel is nog so jonk, so ek dink nie hy gaan regtig weet of verstaan wat aangaan nie, maar hy gaan vir seker agterkom dat daar iets nuuts in die huis waaroor hy baie nuuskierig gaan wees.”
Caroline-Grace sê sy sien baie uit na die ma-en-dogter-band.
“Seuntjies is mos maar op hul eie mission. Hulle vang vis en is maar aan pa se sy. Met dogtertjies is dit anders.
“Ek kan nie wag om goedjies saam met haar te doen nie!”
Die eerste daarvan gaan wees om Iza saam te neem na haar konserte sodra sy weer op die been is, sê Caroline-Grace.
“Ek wil so graag terugkom op die verhoog en sodra sy dit toelaat, gaan ons begin.”
Caroline-Grace reik binnekort ’n splinternuwe enkelsnit uit. “Maar vir eers gaan ek Iza al die aandag en liefde gee wat sy nodig het. Ek is nou eerste Mamma.”
Caroline-Grace sê haar droom vir haar dogtertjie is dat sy die Here sal ken in alles wat sy doen.
“Mag sy altyd weet waar haar krag vandaan kom en volstaan in haar identiteit in Jesus. Ek hoop en vertrou dat sy nie die wêreld se leuens sal glo nie,” sê sy