Koopbewyse van altesaam R100 000 is op die spel vir drie gelukkige wenners wat op Vrydag 10 November Carols with the Stars in Bloemfontein bywoon.
Al wat jy moet doen om die kans te staan om een van die drie koopbewyse te wen, is om inkopies van meer as R200 op ’n keer by Pick n Pay Preller Walk te doen en jou naam en van, ID-nommer en kontakbesonderhede agter op jou inkopiestrokie te skryf, en dit dan in die spesiaal gemerkte houers by dié winkel te plaas.
Vanjaar se Carols with the Stars wat weer by die Laerskool Willem Postma aangebied word, gaan ’n heerlike plaaslike inslag hê.
Die Rhapsody-orkes gaan die musiek maak en kunstenaars Cézanne Yzelle en Tharo – wat bestaan uit Thabo Hlongwane, Mario Lategan en Jacobus Silwer – sal pragtige Kersliedjies en geestelike liedjies sing.
Toegang tot die geleentheid sal weer gratis wees, maar konsertgangers word versoek om nie-bederfbare kos asook hondekos te skenk. Die begunstigdes is die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV), die Sunflower House-hospies en die Mooihawe-bejaardesorgsentrum.
Die drie pryse gaan ná die vertoning op 10 November weggegee word en die wenners moet teenwoordige wees om die kans te staan om te wen.
Die eerste prys is ’n koopbewys waar die wenner ter waarde van R50 000 by Pick n Pay Preller Walk sal kan koop, die tweede prys is R30 000 en die derde prys is R20 000.
Bloemnuus en Radio Rosestad is die mediaborge van dié gewilde jaarlikse geleentheid wat Bloemfonteiners in die Kersfeesstemming bring.