Die CPI Challengers is van links, voor: Corne Booyzen, Dries Maree, Lucas Boucher, Neels Holtzhausen, Mike Otto en Martin Nel

Die spanlede van die CPI Challengers mik hoog en wil graag in Desember aan die wêreldkampioenskaps­byeenkoms van Last Man Standing (LMS) in Kaapstad deelneem.

Met die span wat nou 2de in die Vrystaat, 5de in Suid-Afrika en 1313de in die wêreld in die LMS-liga staan, is dit ’n opwindende uitdaging wat voorlê.

Die span is goed op dreef in die plaaslike liga, met ’n plek wat reeds in die halfeindronde bespreek is. Die liga het in Mei begin en die eind­ronde word op 18 September beslis.

Op die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms wat in April in Bloemfontein plaasgevind het, was die CPI Challengers sesde uit 32 spanne wat deelgeneem het. Slegs die agt topspanne in die land kwalifiseer vir die LMS-wêreldkampioenskap.

Die span het so ’n jaar en ’n half gelede begin saam speel.

Individuele uitblinkers in die span is Mike Otto wat aangeskryf word as naasbeste bouler in die wêreld en in Suid-Afrika in die LMS, en Lucas Boucher wat 53ste in die wêreld as kolwer en 3de in Suid-Afrika is.

Pieter Pitout, een van die spelers, sê die groot uitdaging vir dié groep amateurspelers van die stad is om geld in te samel sodat die span van 11 tot 18 Desember aan die wêreldbyeenkoms kan gaan deelneem.

Die wêreldkampioenskap betrek agt Suid-Afrikaanse spanne en 12 spanne van die buiteland.

You need to be Logged In to leave a comment.