Dit was ’n dekade gelede. Vrydag 5 Oktober 2012. Dit was Die kind se sesde verjaardag. Hy wil ’n hond hê. Pa en ma sug. Maar, so gesê, so gedaan.
Op een voorwaarde: Ons gaan Dierebeskermingsvereniging (DBV) toe, in McGregorstraat. Hy kan daar ’n hond gaan uitsoek. Dan kry die een of ander afgeskeepte of verwaarloosde hond darem ook ’n kans in die lewe.
Nee, nog ’n voorwaarde: Ons sal ook ’n hondebed koop, en die hond se blyplek is op die agterstoep. Nié in die huis nie.
Só ontmoet ons daardie Oktober-Vrydag vir Reinet Meyer van die Bloemfonteinse DBV.
Die kind verduidelik: Hy wil ’n hond hê, “asseblief tannie”. Vir sy verjaardag.
Saam met Reinet stap ons tot by ’n hok. Van groot tot klein is hulle daar: ’n kollie of twee, ’n Maltees of wat, ’n herdershond… Dit blaf, dit kerm, dit tjank. Van die rasende honde spring teen die draad op.
“Kies vir jou een,” sê Reinet vir die kind.
Met sy regterwysvingertjie wys hy na ’n beteuterde brakkie met hartseer ogies. Dis ’n Jack Russelltjie: twee, dalk drie jaar oud. Anders as die res van die honde, maak sy nie ’n geluid nie. Sy sit net, en sy bewe. En sy staar ’n mens reguit, smekend in die oë. Iewers het ’n wrede iemand haar ’n erge knou gegee.
Reinet het die hondjie liefderik tussen die ander honde uit die hok gaan haal, en haar in die kind se arms gesit.
“Veels geluk met jou verjaardag. Kyk mooi na haar…”
Met Channy die Jack Russell se intrek was dit vreemd dat dié gebroke brakkie saans so gelate onder die grasdak bly. Totdat ons agtergekom het die twee boeties tel die hondjie inkruiptyd deur hul kamervenster. Dan slaap sy veilig versteek onder die duvet saam met die oudste met die sagte hart.
Ná ouerlike kajuitraad besluit ons toe maar die lewe is kort, en gee bes.
Channy mag maar ’n huishond wees.
Hoe toevallig? Verlede Donderdag, 6 Oktober, ’n dag ná die kind se 16de verjaardag en presies 10 jaar nadat Reinet vir Channy in sy arms en in ons lewens gesit het, is Reinet op die voorblad van Volksblad.
Die opskrif: “Hoë eer vir DBV-hoof van Bloemfontein”. Sy is nou een van net twee hoofinspekteurs van die DBV in die land. Omdat sy al 32 jaar van haar lewe gee vir die stemlose en weerlose Channy’s, ander honde, katte, leeus, perde, donkies…
Die foto by die koerantberig spreek ’n duisend woorde. Teen Reinet se bors, onder haar koesterende arm, lê ’n DBV-kat salig, vredig en veilig.
Met die kat se voorpoot op haar arm, en in sy oë is sy dankbaarheid vir Reinet se diereliefde in sy oë te sien.
Ons DBV-Channy is nou 12, dalk 13.
Die wimpers raak erg grys, die oë dof, en sy moet deesdae op na die rusbank of bed opgetel word, want die ou bene wil nie altyd meer so lekker nie.
Maar sy is gelukkig. Channy sê groete, Reinet.
En sy sê baie dankie – net soos daardie kat teen jou bors in die foto, soos die duisende ander diere vir wie jy jou dae en lewe gee en soos die baie van ons wat jou so, so baie waardeer.