“Ons gaan meeding, hoor!”
Só sê Clayton Blommetjies, Cheetah-rugbyspeler, oor Vrydag (04/02) se Battle of the Giants-kragmeting waartydens die Knights-krieketspan en die Cheetah-rugbyspan mekaar in ’n T20-krieketwedstryd gaan pak.
Afrigters Hawies Fourie (Cheetahs) en Alan Donald (Knights) was lank bure en het dié kragmeting vir die pret gereël.
Dit sal die eerste keer sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie wees dat toeskouers na so ’n prettige wedstryd kan kom kyk.
Blommetjies sê hy sien uit na die wedstryd en het al die naweek hard aan sy boulwerk gewerk.
“Ons fokus nou eers op ons wedstryd teen die Bulle Woensdag, en daarna sal ons vir die kragmeting teen die Knights oefen,” het hy Maandag aan Bloemnuus gesê.
Aangesien talle van die Vrystaat-rugbyspelers ná die wedstryd teen die Bulle ’n rukkie af is, sal dit meestal Bloemfonteiners wees wat op die krieketveld hul man gaan staan.
Manne soos Rosco Speckman, Frans Steyn en Ruan Pienaar gaan in aksie wees.
Die Cheetahs neem nie die T20-wedstryd ligtelik op nie – “ons gaan speel om te wen,” sê Blommetjies.
Hy reken dit is ’n voorreg om teen die Knights te speel en as hul oefen-ghoeroes op te tree.
“Dit gaan ’n taai wedstryd wees.”
Ná die wedstryd betree die Knights ’n T20-borrel vir opkomende wedstryde.
Slegs 2 000 toeskouers sal by die wedstryd toegelaat word. Pryse is op die spel vir vyf toeskouers wat daarin kan slaag om ’n bal te vang wat vir ’n ses gemoker is.
Die Cheetahs gaan eerste veldwerk doen en kan 15 spelers daarvoor gebruik. Slegs 11 spelers mag egter kolf.
Knights-boulers mag net vier beurte boul, terwyl daar geen beperking is op hoeveel beurte die Cheetahs boul nie. Dié en ’n paar ander reëls word gevolg om die speelveld ’n bietjie meer gelyk te maak.
Die hekke by die Mangaung-ovaal open om 16:00 en die wedstryd begin om 18:00. Kaartjies kos R50 en is by die kaartjiekantoor (051-447-5715) of by ticketpros.co.za beskikbaar.
Toeskouers moet aan Covid-19-regulasies voldoen. Almal wat die wedstryd wil bywoon, moet ingeënt wees en ’n identiteitsdokument lewer.