Die optrede deur ’n voorste Poolse pianis in Bloemfontein is ’n regstreekse uitvloeisel van die samewerking wat Ben Schoeman met die Musiek-akademie in die Poolse stad Krakow bewerkstellig het.
Schoeman, Suid-Afrika se sterpianis en ’n dosent aan die Universiteit van Pretoria, sê hy het reeds sy kant van die ooreenkoms nagekom met ’n werksbesoek aan die Poolse musiek-akademie in Januarie. Die internasionaal bekende Chopin-spesialis Andrzej Pikul is daar ’n professor.
Hul samewerking behels onder meer ’n solo-klavieruitvoering deur Schoeman in Krakow wat daardie gehore aan Suid-Afrikaanse musiek blootstel, en omgekeerd deur Pikul, wat plaaslike gehore aan Poolse musiek bekend stel.
Bloemfonteinse musiekliefhebbers is dus bevoorreg om ’n hele program van Chopin-werke te hoor – masurkas, ballades, nokturnes, polonaises en walse – uitgevoer deur ’n kenner van dié Pools gebore komponis.
Pikul se konsertloopbaan het kort ná sy studie aan die Musiek-akademie in Krakow en as student van Paul Badura-Skoda aan die Hochschule für Musik in Wene begin. Sy optrede by die Szene der Jugend in Salzburg in 1982 het deure laat oopswaai op al die vastelande waar daar konsertsale is.
- Pikul tree vandag (10/02) om 19:30 in die Geloofsentrum in Universitas op. Die kaartjies kos R160 vir volwassenes, R80 vir pensioentrekkers en personeel van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en R60 vir studente, leerlinge en blokbesprekings van tien of meer. Kaartjies is op phoenixpro.co.za of by die deur beskikbaar.
Jan Beukes, die artistieke hoof van die Odeion Skool vir Musiek (OSM) wat die klavieruitvoering aanbied, sê hy hoop hulle kan spoedig weer met konserte na die Odeion-teater op die UV-kampus terugkeer. Dié teater is ’n gunsteling onder veral klassieke musici en ook geliefd onder Bloemfonteinse gehore.