Bloemfontein was nog altyd geseënd met pyporreliste wat hulle as van Suid-Afrika se beste onderskei het.
Chris Crouse (76) van die NG kerk Hugenoot is een van hulle.
Sedert 1970 beklee hy dié amp in verskeie kerke in Bloemfontein en is teen dié tyd beleë soos goeie wyn.
Geen wonder dat Koning Dawid van ouds Levietiese priesters aangestel het om die sang waar te neem wanneer die Here se ark sy rusplek sou vind. Hulle het die sang gelewer voor die heiligdom en al was die pyporrel nog nie ’n gedagte nie, was daar musiekinstrumente ingespan om die sangers te ondersteun.
As dit by die pyporrel kom, is Chris ’n Leviet in hart, murg en been. Hy is ’n man met vele talente en vaardighede, en het by Telkom as senior rekenmeester van die Vrystaat en die Noord-Kaap uit diens getree.
Chris glo ’n pyporrelis moet ’n toegewyde mens wees en sy amp met sy hart beklee. Saam met Johannes Calvyn glo hy ook: “Niemand gee homself vrylik en gewillig in God se diens nie, tensy hy die Vader se liefde gesmaak het en hy nie anders kan om God te dien nie.”
Vir hom is dit ’n voorreg om sedert 1970 tot 2023 in kerke te kan orrel speel en só instrumenteel is om ’n gemeente tot lofprysing en aanbidding in die teenwoordigheid van die Hemelse Vader te lei.
Hy het op agt jaar met klavierles begin, maar Sondae was sy oë vasgenael op die tannie voor die orrel. Hy het haar vaardigheid op die manuale en pedale fyn dopgehou.
Die Lowrey-orrel wat hy later gekoop het om ligte musiek te beoefen, was nie bevredigend nie. Hy het die orrelis van die NG kerk Noordhoek, wyle Yvonne Rossouw, vir orrelonderrig genader.
Chris het gou speelgeleenthede gekry en is in 1971 by die NG kerk De Bloem aangestel waarna ander gemeentes gevolg het, en ook die NG kerk Hugenoot.
Elke orrel waarop hy ooit gespeel het was vir hom ’n uitdaging om te bemeester en veral om met klankkleure te eksperimenteer.
Hy het orrelopleiding van verskeie dosente ontvang en is ná 54 jaar as orrelis dankbaar vir alles wat hy by elkeen kon leer.
In 1985 het hy die koor Te Deum Laudamus (Ons loof U, Here) in Bloemfontein begin wat vir 28 jaar met die seën van die Here funksioneer het. Hy onthou ’n gratis Sondagmiddagkonsert waar die koor in die NG kerk Universitas met besoekende orreliste soos Zorada Temmingh, Albert Troskie, Wim Viljoen en Colin Campbell gesing het.
Die koor het maandeliks in ’n erediens opgetree en vyf CD’s van gehalte a capella-sang is opgeneem.
Die koor het in 2012 ontbind.
Vroeg in 2013 het Chris ’n kamerkoor begin, bekend as die Soli Deo Glori-kamerkoor (Ons loof U, Here). Die koor het in Desember 2022 ontbind.
Chris het sedert sy kinderjare gevoel dat daar ’n “sekere soort musiek” in die kerk gespeel moet word. Waardevolle leiding by wyle prof. Chris Swanepoel het hom vir eredienste geïnspireer.
Chris het vroeër in Kimberley, Kroonstad en Bethlehem as lid van die Suider-Afrikaanse Kerkorrelvereniging (Sakov) by die vereniging se byeenkomste demonstrasielesings aan mede-orreliste aangebied.
Hy sê die pyporrel sal altyd ’n plek in ’n kerk hê. In Hugenoot beskik die kerk oor ’n uitstekende orrel met twee manuale wat deur die Suid-Afrikaanse Orrelbouers (SAOB) vervaardig is. Daar is baie waardering vir dié orrel in die gemeente.
“ ’n Orrel is ’n magtige instrument en beskik oor alles wat nodig is om God te loof, te prys en te aanbid. Dit is soos ’n magtige simfonieorkes wat oor elke moontlike instrument beskik.”
Chris is in 1972 met Andrea van Biljon getroud wat hy in sy weermagdae in Bethlehem ontmoet het. Saam is die egpaar ’n gelukkige span wat hul harte gee vir die kerkmusiek- en tuinkuns.
Salomo het in Spreuke geskryf: “Sien jy ’n man wat vaardig is in sy werk, hy kan voor konings staan…”
Chris is een van hulle. ’n Orrelis wat koningswerk doen vir ’n Koning.