Cussons-digkuns herleef

Die digter Sheila Cussons sou op 9 Augustus vanjaar ’n 100 jaar oud word – ’n digter waaroor Joan Hambidge skryf: “Eenmaal in ’n digkuns eenmaal, was daar ’n Sheila Cussons.”.


Die digter Sheila Cussons sou op 9 Augustus vanjaar ’n 100 jaar oud word – ’n digter waaroor Joan Hambidge skryf: “Eenmaal in ’n digkuns eenmaal, was daar ’n Sheila Cussons.”

Op 9 Augustus bied die Klinkklaar Vokale en Instrumentale Ensemble ’n huldigingskonsert aan waarin nuwe toonsettings van Cussons-gedigte gehoor kan word. Musiek-items word vervleg met brokkies inligting oor Cussons se lewe, onder andere oor haar fassinasie met engele, die verhouding tussen Cussons en NP van Wyk Louw, haar aanvaarding van die Rooms-Katolieke geloof en mistieke ervarings. Dit vertel ook van die ernstige brandongeluk met ’n stofie wat Cussons as gestremde gelaat het en waarná sy van haar aangrypendste gedigte geskryf het.

Cussons het gedurende haar leeftyd 11 bundels poësie gepubliseer waarvoor sy talle pryse verower het, onder meer die Hertzogprys in 1983 vir haar hele oeuvre.

Die Klinkklaar Vokale Ensemble is in 2020 gestig toe ’n groepie vriendinne in ’n virtuele huiskonsert, wat vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns opgeneem is, opgetree het. Een-en-twintig gedigte wat almal handel oor een of ander vorm van inperking en afsondering, is in twee episodes op die akademie se facebookblad uitgesaai.

Sedertdien lê die 16 groeplede hul deur hul sang toe op die bevordering van Afrikaanse poësie. Aangesien die meeste van die groeplede ook musiekinstrumente bespeel, word alle instrumentale begeleidings, asook agtergrondmusiek by gedigvoorlesings, deur die lede self gedoen.

Die huldigingsgeleentheid vind op 9 Augustus (Cussons se verjaardagdatum, wat ook Vrouedag is) om 10:30 plaas by die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Noordhoek in David Fouriestraat, Noordhoek. Toegang is gratis met vrywillige donasies ten bate van Klinkklaar. Die konsert word deur die Kunstetrust geborg en vind onder beskerming van Die Vriende van Naln en Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns plaas. Vir meer inligting, kontak joanitaerasmusalt@gmail.com of 082-886-1888.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.