Die DA in die Mangaung-metro gaan op die volgende gewone raadsvergadering ’n mosie indien vir die totstandkoming van ’n doeltreffende oproepsentrum waar inwoners klagtes kan aanmeld.
Dirk Kotze van dié party sê inwoners en raadslede is gefrustreerd daarmee dat daar dikwels nie mense by die metro se oproepsentrum is wat oproepe tydens piektye en noodgevalle kan antwoord nie.
“Dit veroorsaak dat talle probleme met dienslewering nie by die munisipaliteit aangemeld kan word nie.”
Hy verduidelik die sentrum wat die DA voorstel, sal uitgebreide dienste aan inwoners bied, soos ’n plek waar die publiek kan instap om klagtes aan te meld, asook ’n webwerf wat kommunikasie sal vergemaklik.
“Om die effektiewe bestuur daarvan te verseker en klantediens te verbeter, stel die DA die inwerkingstelling van ’n outomatiese diensoproepsentrum voor. Die stelsel ontvang inkomende oproepe en versprei dit na beskikbare personeel, wat die wagtyd vir klante verkort. Dit sal ook help op tye dat ’n hoë aantal oproepe ontvang word, en dit sal keer dat die span oorweldig word,” verduidelik Kotze.
Hy sê dié oproepsentrum sal aan inwoners ’n wye reeks opsies gee, wat insluit rekeningnavrae, asook die aanmeld van klagtes oor elektrisiteit, water en sanitasie, vullisverwydering, wetstoepassing, padinstandhouding, bouregulasies en omgewingsgesondheidsprobleme.