Op die nuuskonferensie Dinsdag (14/06) was onder andere van links Johan Pretorius en Dulandi Leech van die DA.

Mlungisi Louw

Ná die begrotingsvergadering op Vrydag 3 Junie, waarop die Mangaung-metro se regspan toegegee het dat die goedkeuring van die begroting onwettig was, word daar Woensdag (15/06) weer ’n raadsvergadering gehou.

Dit kom nadat VF Plus-raadslid dr. Elizabeth Snyman van Deventer ná die vergadering die speaker Stefani Lockman-Naidoo daarop gewys het dat die begroting nie volgens grondwetlike vereistes aanvaar is nie.

Slegs 45 raadslede uit die 101 het op 3 Junie ten gunste van die begroting gestem. Daar is raadslede wat nie dié Vrydagaand die vergadering bygewoon het nie.

Volgens Johan Pretorius, koukusleier van die DA in die metro, moet die meerderheid van die raad ten gunste van die begroting stem en nie die meerderheid van die raadslede op die vergadering, soos wat gebeur het nie.

Die DA het Dinsdag (14/06) ’n nuuskonferensie gehou waarin hulle ’n alternatiewe begroting ter tafel gelê het.

“Ons is nie teen die begroting nie, maar ons wil sien dat dienste gelewer word,” het Pretorius Dinsdag gesê.

“Ons wil ’n begroting sien wat kan werk.”

Dulandi Leech, woordvoerder oor finansies vir die DA Mangaung-koukus, sê daar is verskeie redes waarom hulle nie die bestaande begroting ondersteun nie.

“Dit is nie volhoubaar nie omdat geld uitgeput is voordat die geldjaar verby is; die tariefverhogings is nie bekostigbaar vir inwoners nie; en die inkomste uit beleggings van 26,84% is onrealisties. ’n Verhoging van 8% op beleggings is baie meer realisties.”

Sy sê een van die groot probleme met die begroting is die enorme salarisrekening van R2,4 miljard.

“Dit kan verminder word as politieke aanstellings verminder word en daar herbersin word oor prestasiebonusse.”

Die DA het Maandag (13/06) met die ANC vergader, met voorstelle oor hoe die begroting meer realisties aangepas kan word om die publiek se behoeftes in ag te neem.

Leech sê daar kan begin word met ’n meer gepaste verwagting op ’n inkomste van 80% uit skuldinvordering weens wanbetaling in plaas van die 94%.

“Tariewe is nie regverdig aangepas nie. ’n Mens moet onthou dat die nuwe waardasierol van 1 Julie af geldig is. Mense moet dus nou nuwe eiendomsbelasting betaal by die verhoogde tariewe. Bonop tree die wintertariewe vir elektrisiteit ook in werking.”

Een van die voorstelle in die DA se begroting is om ’n spesifieke begroting vir dag-tot-dag-uitgawes te hê sodat dienste voortdurend gelewer kan word en nie onderbreek word deur tekorte nie.

“Raadslede bel gereeld met versoeke van herstelwerk, net om te hoor daar is nie diesel, gruis of selfs lisensies op voertuie nie. So ’n afdeling in die begroting kan diensverskaffing verbeter.”

Die DA meen daar moet minder kontrakteurs wees en meer geld beskikbaar vir munisipale werkers om hul werk te doen.

Hulle stel voor dat die vullisverwydering met 2,5% verhoog in stede van die voorgestelde verhoging van R4,8%.

“Talle inwoners gebruik reeds private kontrakteurs om hul vullis te verwyder omdat hulle nie op munisipale dienste kan staatmaak nie.”

Pretorius sê daar is beslis ’n faksie van die ANC wat nie tevrede met die begroting is nie en nog verdere samesprekings daaroor wil hê.

“Ons het nog nie die veranderinge op die begroting gesien nie en kry dit eers môre tydens die vergadering,” het Pretorius Dinsdag gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.