Die Mangaung-metro kon Woensdag (15/06) op ‘n tweede begrotingsvergadering wéér nie die begroting goedkeur nie.
Ná die vergadering vir die goedkeur van die begroting van die boekjaar 2022/23 op Vrydag 3 Junie waarop die Mangaung-metro se regspan toegegee het dat die goedkeuring van die begroting onwettig was, is daar Woensdag weer ’n raadsvergadering gehou.
Op die vergadering op 3 Junie het slegs 45 raadslede uit die 101 ten gunste van die begroting gestem. Op Woensdag se vergadering het 50 raadslede ten gunste van die begroting gestem, maar 50% van al 101 raadslede moet ten gunste van die begroting stem om dit goedgekeur te kry. Dus sal ‘n derde vergadering moet plaasvind.
Raadslede van opposisiepartye was tydens Woensdag se vergadering moedeloos omdat die begroting slegs deur die uitvoerende burgemeester Mxolisi Siyonzana voorgelees is en die raadslede nie die dokumente met die enkele veranderings in op skrif ontvang het nie.
Opposisielede was ook ontevrede omdat daar niks gekom het van ‘n vergadering wat Maandag (13/06) met die ANC gehou is nie. Versoeke wat daar gemaak is, is nie in die begrotingsdokument vervat nie. Opposisiepartye het Woensdag op die raadsvergadering versoek dat die vergadering uitgestel word sodat opposisiepartye na die aangepaste dokument kan kyk voordat hulle oor diie begroting moet stem.
Uiteindelik is oorgegaan tot stemming en daar was 50 stemme ten gunste van die begroting en 41 daarteen. Drie ANC-lede het buite stemming gebly.
Die begroting moet voor 1 Julie goedgekeur word.
Die DA het Dinsdag (14/06) ’n nuuskonferensie gehou waarin die party ’n alternatiewe begroting ter tafel gelê het.
“Ons is nie teen die begroting nie, maar ons wil sien dat dienste gelewer word,” het Johan Pretorius, die DA se koukusleier, Dinsdag gesê.
Dulandi Leech, woordvoerder oor finansies vir die DA se Mangaung-koukus, sê daar is verskeie redes waarom hulle nie die bestaande begroting ondersteun nie.
“Dit is nie volhoubaar nie, omdat geld uitgeput is voordat die geldjaar verby is; die tariefverhogings is nie bekostigbaar vir inwoners nie; en die inkomste uit beleggings van 26,84% is onrealisties. ’n Verhoging van 8% op beleggings is baie meer realisties.”
Sy sê een van die groot probleme met die begroting is die enorme salarisrekening van R2,4 miljard.
“Dit kan verminder word as politieke aanstellings verminder word.”
Leech sê daar kan begin word met ’n meer gepaste verwagting op ’n inkomste van 80% uit skuldinvordering, in plaas van 95%.
Siyopnzana het in sy voorlesing van die begroting Woensdag dié bedrag verminder na 82%.
“Tariewe is nie regverdig aangepas nie. ’n Mens moet onthou dat die nuwe waardasierol van 1 Julie af geldig is. Mense moet dus nou nuwe eiendomsbelasting betaal by die verhoogde tariewe,” het Leech Dinsdag oor die ANC se begroring gesê.
Een van die voorstelle in die DA se begroting is om ’n spesifieke begroting vir dag-tot-dag-uitgawes te hê sodat dienste voortdurend gelewer kan word en nie onderbreek word deur tekorte nie.
Van die ander veranderings wat in Siyonzana se toespraak genoem is, is dat oortydbetaling vir werkers tot ‘n maksimum van 40 uur per maand beperk word en dat daar nie verder vir die metrodiens begroot sal word nie. Hy het gesê ‘n voertuig wat vir die metropolisiediens sou gaan, sal nou deur die afdeling vir wetstoepassing gebruik word.
Na die vergadering Woensdag het Pretorius in ‘n verklaring gesê die voorgestelde begroting bly onderbefonds met onrealistiese tariewe en sal steeds geen bydra maak tot goeie basiese dienste in die metro nie.
Pretorius sê in terme van die Munisipale Finansiële Bestuurswet kan daar nog net twee geleenthede wees om die voorgestelde begroting voor einde Junie goed te keur voordat die raad moet ontbind.