Die mosie van wantroue wat die DA in die Mangaung-metro reeds in September teen die uitvoerende burgemeester, Mxolisi Siyonzana, ingestel het, is steeds nie in ’n raadsvergadering aangehoor nie.
Só het die DA se Mangaung-koukusleier Johan Pretorius Woensdag (30/11) op ’n saamtrek voor die Bloemfontein-stadsaal gesê.
Hy sê November se raadsvergaderings waarop die mosie aangehoor moes word, is telkens uitgestel, en selfs die een wat vir Woensdag beplan was, het nooit plaasgevind nie.
Hy sê hulle kry die indruk dat Siyonzana die raadsvergaderings vermy omdat hy nie die verslae geteken het nie – en juis oor die mosie wat teen hom aangehoor moet word.
“Ons het besluit om ’n saamtrek te reël, want die geleentheid waarop die mosie kan dien, vind net nie plaas nie.”
Pretorius sê Siyonzana moes reeds in Augustus die aangepaste begroting ter tafel gelê het, en dit het nooit plaasgevind nie.
Die aangepaste begroting met laer tariewe soos deur die amptelike opposisie voorgestel is, moet dus nog voorgelê word om dienslewering tot einde Junie 2023 moontlik te maak.
Pretorius sê ook die DA eis dat ’n ombudsman aangestel word om die belange van die publiek te beskerm. Hy sê Siyonzana moet die waarnemende stadsbestuurder opdrag gee om onmiddellik te begin met die proses om ’n ombudsman aan te stel ná verskeie besluite op raadsvergaderings.
In die lys van eise wat die DA aan die burgemeester oorhandig, word genoem dit is noodsaaklik dat kontrakteurs weer aangestel word om te help met die agterstand van die verwydering van rioolblokkasies, die herstel van stormwaterdreineringstelsels, die opvul van slaggate en vullisverwydering.
Die DA eis ook dat ten einde stabiliteit in die metro te verseker, ’n stadsbestuurder dringend aangestel moet word om die bestuur van die metro te behartig. Daar is nou net ’n waarnemende stadsbestuurder.
“Die burgemeester moet ’n kortlys van kandidate met hul CV’s op die volgende raadsvergadering ter tafel plaas sodat die raad die beste kandidaat kan aanwys,” het hy op die saamtrek gesê.
Benewens die moeilike omstandighede wat deur beurtkrag veroorsaak word, sit talle inwoners van die metro voortdurend in die donker weens kragonderbrekings. “Sommige dele van die metro is soms dae lank sonder krag. Centlec moet onmiddellik óf kontrakteurs aanstel óf eie hulpbronne gebruik om bome te snoei in strate waar bome aan kragkabels raak.”
Hy sê hierdie stap sal tot 70% van die onvoorsiene kragonderbrekings tydens slegte weer uitskakel.
Pretorius sê verkeersbeamptes en wetstoepassingsbeamptes moet uit hul kantore kom en sigbaar in die stad wees om munisipale regulasies toe te pas.
“Die wetteloosheid in die stad moet end kry, en die veiligheid van inwoners moet ‘n voorkeursaak wees.”
Verder eis die metro dat staatsdepartemente se skuld ingevorder word en dat hul krag afgeskakel word indien betaling nie geskied nie.
Om die stad se watersekuriteit te verseker, moet Bloemwater se rekening ten volle betaal word.
Die DA eis dat Maselspoort se wateraanleg herstel word sodat dit ten volle werk, en daar moet genoeg chloor wees om water tydens die reëntyd te suiwer.
Pretorius sê dit is onregverdig dat die inwoners ly weens politieke onstabiliteit.
David van Vuuren, lid van die provinsiale wetgewer, sê almal moet saamstaan om die ANC te dwing om ’n verskil in die stad te maak.
Hy sê die binnegevegte in die ANC en die ANC se kongres wat binnekort plaasvind, het blykbaar veroorsaak dat alles in die metro tot stilstand kom.
“Ons moet voortgaan om druk toe te pas op die ANC en op amptenare wat nie hul werk doen nie, om hulle só verantwoordbaar te hou.”