Die DA in die Mangaung-metro het begin met ’n versoekskrif dat R51 miljoen van die metro se begroting direk vir die opknapping en instandhouding van wyke beskikbaar gestel word.
Dirk Kotzé, DA-wyksraadslid, sê so ’n stap sal dienslewering in die stad se 51 wyke verbeter.
“Die DA het met leiers van woonbuurtverenigings en menseregtegroepe vergader en wil die petisie aan die metro voorlê.
“Die projek sal R1 miljoen oor drie jaar aan individuele woonbuurte beskikbaar stel.” Hy verduidelik die geld sal slegs aangewend word vir die opbou van gemeenskappe, die verbetering van openbare veiligheid en die verbetering van basiese dienste in elke wyk van die munisipaliteit.
In die plan wat die DA saamgestel het, sal wyksraadslede en hul wykskomitees saamwerk met woonbuurtverenigings en mensegregtegroepe werk om te voldoen aan die behoeftes van elke spesifieke wyk.
“Streng verkrygingspraktyke en aanbodkettingbestuurprosesse sal gevolg word wanneer geld uit die fonds aangewend word,” verduidelik Kotzé.
Hy sê dit volg op miljoene rande wat in vorige jare deur die nasionale tesourie aan die metro beskikbaar gestel is en weer terugbetaal moes word omdat dit nie vir die bestemde projekte aangewend is nie.
“In 2014 het Mxolisi Siyonzana, wat toe die speaker in die metro was, met wyksraadslede vergader en R200 000 beskikbaar gestel vir die opheffing van gemeenskappe. Dit was nie ’n amptelike vergadering nie en dit het op niks uitgeloop nie. Die DA het destyds telkens vrae gevra oor die projek. Daar was ook bewerings dat R10 miljoen van die begroting spandeer is op die ANC se veldtog vir die 2016 verkiesing van plaaslike regerings,” sê hy.
Tot nou het die metro in toenemende mate gefaal is sy verskaffing van basiese dienslewering, soos ook gesien kan word in die vullis wat op sypaadjies bly ophoop, rioolwater wat die stad vol vloei en die sinkgat op die Hoërskool Sentraal se rugbyveld waar die stormwaterdreineringspyp steeds nie herstel is nie.
Kotzé sê die mosie gaan gestaaf word deur die bedrag wat die metro ontvang vir woonbuurt-ontwikkeling.
“Die metro moes die afgelope vyf boekjare reeds R850 miljoen aan nasionale tesourie terugbetaal omdat dit nie volgens voorskrif gespandeer is nie.”
Kotzé sê die DA hoop die petisie sal inwoners aanmoedig om meer betrokke te raak by wyksraadslede en komitees in die gemeenskap om woonbuurtverenigings te stig of bestaande verenigings en diensgroepe te ondersteun. “Ons moedig inwoners aan om die petisie in ondersteuning van die mosie te ondersteun om Mangaung weer tot sy eertydse glorie te laat terugkeer,” sê hy.
Die petisie is reeds deur 2 443 ondersteuners onderteken. Sien meer oor die petisie op die skakel https://petitions.da.org.za/p/fund-our-wards-in-mangaung.