Daar is meer as een manier om liefderikheid te wys

Dit is gewoonlik nog nie eens November nie, dan speel “Jingle Bells” al in die winkels en “bling” dit oral met Kers­versierings.


Dit is gewoonlik nog nie eens November nie, dan speel “Jingle Bells” al in die winkels en “bling” dit oral met Kers­versierings.

Die Kersversierings is skaars weggepak, of oral verskyn hartjies en ballonne om almal te herinner aan die dag van liefde.

Binne ’n oogwink verdwyn alles wat rooi is van die rakke om plek te maak vir Paashase vir die volgende gebeurtenis op die kalender.

’n Mens word so meegesleur oor wanneer jy wat moet vier, dat jy gedweë saam met die stroom swem.

Nog ’n Valentynsdag wat soveel onnodige druk veroorsaak – op getroude, verloofde en verliefde metgeselle wat uit openbare druk eenvoudig iets móét gee.

Kinders – selfs in kleuterskole – word meegevoer in die malligheid van Valentynsdag en daag in vrolike pakkies by die kleuterskool op.

Ballonne, geskenkies en blomme word oral uitgedeel.

Ek weet nie of dit vandag vir skoliere makliker is nie, maar jare gelede op skool het ek Valentynsdag gehaat.

As jy oorgesien word en nie ’n Valentynsdagkaartjie, blomme of geskenkie ontvang van ’n geheime (of minder geheime) bewonderaar nie, dan voel jy verworpe. Verstote. Uitgesluit van die gelukkige verliefdes wat oral om jou pronk met hul geskenke.

Ontvang jy een, sweef jy dae lank op ’n wolkie van geluk.

Dit word makliker om die druk van die massa te weerstaan as jy ouer word. Vrede maak met ’n metgesel wat nooit in ’n winkel kom nie en salig onbewus leef van die ophef wat oor dié spesiale dag gemaak word.

Vir talle oudgetroudes is dit net nog ’n dag, vir ander ’n dag om hul liefde te vier.

Sommige wil egter ook vier – met of sonder ’n geliefde aan hul sy.

Vreemd hoe ’n mens deesdae sommer vir almal wat jy teëkom gelukkige Valentynsdag toewens.

Hartjies, blomme en drukkies stuur danksy die skepping van emoji’s op die selfoon. Liefde met die druk van ’n knoppie.

Ek onthou toe “xxx” net gereserveer was vir jou geliefde.

Emoji’s het dit maklik gemaak en baie meer sosiaal aanvaarbaar om vir iemand blitsig te laat weet hoe jy voel en wat jy dink. En vir vriende en familie is jy tog ook lief. Vir iemand vir wie jy omgee, wil jy laat weet jy sou eintlik nou vir hom of haar ’n drukkie wou gee.

Liefde is immers nie net bedoel vir jou lewensmaat nie. Dit is vir elkeen wat jou lewe besonders maak.

Vriendinne en vriende wat jou bystaan in moeilike tye.

Omgee en jou bederf met ’n spesiale kuiertjie op Valentynsdag.

Almal se liefdestaal is immers nie geskenke nie.

Vir sommige is die tyd saam met geliefdes, vriende en dierbares baie meer werd as geskenke en blomme wat uiteindelik verlep.

Mag die gees van liefde vir jou mense voortduur lánk nadat die blomme verlep het, die sjokolade opgeëet is, en die geskenkies in laaie verdwyn het.

Tyd saam is ons kosbaarste geskenk aan mekaar.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.