Daardie klim uit groef nodig om pad kaf te draf

Ek weet nie of Covid die skuldige is nie. Die afgelope vier jaar voel soos ’n ingedrukte konsertina, wat met een skreiende noot inmekaargevloei het.


Ek weet nie of Covid die skuldige is nie. Die afgelope vier jaar voel soos ’n ingedrukte konsertina, wat met een skreiende noot inmekaargevloei het.

Voor Covid het ek gereeld ge-parkrun en was my tyd nie sleg nie, gegewe dat skaak my voorkeursport op skool was.

Dat ek parkruns gedoen het, was toentertyd al ’n wonderwerk, inaggenome my traumatiese herinneringe aan liggaams­opvoeding klasse op skool. Ek word steeds geteister deur drome van kleursport-wedlope van drie tot vier rondtes rondom Goblepark in Bethlehem. Kinders wat my aanmoedig: “Nog net twee rondtes! Byt vas, Igno.”

Dit sou nie so erg wees as die bemoedigers langs die baan nie van die kinders was wat saam met my weggespring en lank reeds klaar was nie.

Ek het my hertoetrede tot parkrun sorgvuldig beplan. ’n Mens verken waar die fotograwe staan. ’n Foto van jou gaan dalk op die sosiale media verskyn.

Om jouself sleepvoet-swetend te sien stap met hangskouers en hol oë kan selfbeeld-vernietigend wees. Veral as die foto binne die eerste kilometer, én van die agterste groepie, geneem word.

Kort voor die fotograaf moet ek dus genoeg energie hê om my skouers terug te trek, my maag in, en my beste draf-voetjie voor te sit. ’n Fotogeleentheid wat my trots sal maak en my oudskoolmaats met hul leesbril voor Facebook jaloers.

Diskresie is belangrik. Dit lyk nie goed om in volle hardloop-aksie te wees, maar voor jou is ’n tante of omie met ’n loopraam en ’n poedel aan ’n leiband nie.

Daar is verskillende soorte drawwers en stappers. Sommige lyk of hulle skeefweg met ’n visstok inkatrol word. Ander is kortbeniges wat lang, sluipagtige tree inryg. Hulle is relatief vinnig – daar tussen die agterste drawwers en die sosiaal-kletsende stappers waar ek my gewoonlik bevind. Ook gryses met verbleikte halfmaraton-T-hemde. Gevaarlik. Hulle kom gewoonlik met ’n eindpoging geïnspireer deur roemryke toentertydse hardloopjare, en gaan waarskynlik terug ouetehuis toe met nuwe wenverhale vir stoep­storietyd.

Sommige stapdrawwers word deur honde meegesleep. Dikwels ronderige honde, soos ek, daar om te herstel van Covid-eetgewoontes. Hulle dink hulle is op ’n kort draffie en ’n mens kry hulle later wanneer hulle hul eienaars tot veraf-starende stilstand forseer met verskonings van toiletbesoeke of hygende waterstoppe.

Natuurlik is daar uithaler-atlete. Gewoonlik moet ek kort ná wegtrek koes wanneer hulle van voor terugkom met hygasems en bultkuite. Snaaks, ek is meer besorgd dat die klompie in my onmiddellike omgewing dalk gaan neerslaan as een van hierdie ligvoetige spoedvrate.

Waarom elke Saterdag terugkom? Ek hoef niks te bewys nie. Elkeen is eiesoortig anders.

Dalk probeer hulle, soos ek, om die stilstand en konsertina-inkramping van die afgelope vier jaar tot ’n nuwe dans met die lewe komponeer.

Elke tree ’n nuwe, suiwerder noot. Skeppend aan klankbane vir ons lewensuitdagings.

Ons eie “Chariots of Fire”.

You need to be Logged In to leave a comment.