Smul aan lekkernye by die Franse Mark. Vanl inks is Juanita Duncan, Lizette Storm en Elinda Vorster.Foto: Lientjie Mentz


Villa Avianto in Kwaggafontein bied op 3 Desember ’n Kersmark met verlengde ure aan – van 10:00 tot 20:00.

Suretha van Heerden, mede-eienaar van Villa Avianto en organiseerder van die Franse Mark, sê dit gaan ’n feestelike geleentheid wees.

“Met smaaklike kos en drinkgoed is dit die perfekte plek waar mense veilig saam met vriende en familie kan kuier.”

Benewens varsgemaakte eetgoed, is daar ’n groot verskeidenheid stalletjies met gehalte-produkte waarby besoekers na spesiale Kersgeskenke kan rondsoek.

“Ons sien uit na die laaste geleentheid waarop mense kan Kersaankope doen voordat almal met vakansie vertrek,” sê Van Heerden.

“Die uitstallers gaan veral fokus op duursame en praktiese Kersgeskenke vir die hele familie. Daar gaan mooi artikels van leer en waardevolle juweliersware wees. Loer gerus rond vir tuisgebakte Kerskoekies, beskuit en die mooiste Kersdekor vir die boom, met selfs glasballe waarin jou naam is.”

Van Heerden sê van die ander geskenke en versierings sluit in klassieke kerse, handgemaakte messe, tuisgemaakte kinderspeelgoed, asook sepies en rome.

Dit is die laaste Franse Mark vir die jaar, en ’n feestelike stemming sal heers met optredes deur die Bloemfontein-marimbas, wat markgangers met ritmiese musiek en Kersliedjies sal verras. Helen Fourie gaan Kersliedjies sing en Jani Niehaus gaan Franse liefdesliedere met Kersklanke aanbied.

Die Spice Walk vir die flukses begin om 09:00.

Hekke open om 10:00. Toegang kos R30, en R10 vir gr. 1- tot gr. 7-leerlinge. Kinders jonger as ses jaar kry gratis toegang.

You need to be Logged In to leave a comment.