Dit is soos ’n skattejag teen ’n “hengse” spoed.
Só beskryf Bloemfonteinse navigator Leander Pienaar sy heel eerste deelname aan die Dakar-wedren wat van 31 Desember tot 15 Januarie in Saoedi-Arabië plaasgevind het.
Pienaar en bestuurder Eben Basson van Komatipoort was deel van die G Rally-span, wat as deel van die groter span TeamHilux Rally-Raid deelgeneem het.
“Ons het net drie weke voor die tyd gehoor dat ons in die span ingesluit is,” sê Pienaar.
“Dit het ons baie min tyd vir voorbereiding gegee.”
Nogtans het die twee met hul ligte prototipe-veldvoertuig uitstekend gevaar in die T3-afdeling en sewende uit 84 spanne klaargemaak. Hulle is ook as die beste nuwelinge in dié afdeling aangewys.
Hoewel hulle min tyd vir voorbereiding gehad het, het die twee al uitstekend saam gevaar toe hulle verlede jaar se Suid-Afrikaanse veldrenkampioenskap, wat oor maande op verskillende plekke beslis is, aangedurf het. Hulle het in die T1-afdeling gewen.
“Dit was ’n baie goeie grondslag vir die Dakar,” sê Pienaar.
Nou mik die twee hoog en hoop om in die T1-plus-afdeling mee te ding wanneer hulle aan 2024 se Dakar-wedren deelneem.
Die Dakar-wedren neem deelnemers oor 8 700 km, van die Rooisee tot by die Persiese Golf, met resies-skofte oor 4 000 km in 14 dae.
Pienaar sê dit was regtig baie uitdagend.
“Ek het nog nie ’n hele naweek so ’n taai resies gehad soos een skof van die Dakar nie.”
Boonop was dit koud en baie nat.
“Hulle sê dit het in 20 jaar nie soveel gereën nie.”
Om aan die Dakar-wedren te kon deelneem was vir Pienaar ’n groot droom wat waar geword het.
“Ek neem al van st. 4 af aan motorsport deel.”
Aanvanklik het hy aan vierwielmotorfietswedrenne deelgeneem, maar later het hy meer belang gestel in liggewig veldmotors (“side-by-side”).
“Die lekkerste van my deelname aan die Dakar, is om terug te wees by die huis. Terwyl ’n mens daar is, is jy baie gefokus.
“Noudat ek kan terugkyk, besef ek watter ongelooflike geleentheid dit was.”