Die kat se naam is Muis.

In die palm van jou hand sit sy so klein soos ’n muis. Haar pote, stert en ore is muisgrys. Die res van die welige pelsie is ’n mooi siamese karamelkleur.

Toe sy verskrik hier aangebring is, was sy nog nie eens 12 dae oud nie.

Die diepblou, bang ogies nog slegs so driekwart oop.

Twee jong vroue het haar aangebring ná ’n smeekroep en skokkende foto’s op die buurt se WhatsApp-groep; foto’s van dae oue katjies onder in ’n diep, bruin kartonboks. Iemand het Muis en haar vier boeties en sussies in die boks hier diep in die lang gras van die veld langs die spruit kom wegsmyt.

Hulle is weggegooi. Net soos wat die deftige blonde vrou met die deftige motor nie te lank terug nie ’n hond hier langs die pad uit die kar gesmyt het.

Dit gebeur al hoe meer dat mense, sonder om te blik of te bloos, diere in en om die stad wegsmyt, skryf ontstelde Bloemfonteiners op buurtgroepe.

Daar is fout. Wat hierdie onmenslikes doen, verklaar ’n deel van die gemors waarin die wêreld is.

Franciskus van Assisi het dit al in die 13de eeu goed saamgevat: So lank as wat daar mense is wat enige lewende wese of skepsel die geborgenheid van ontferming en sorg ontneem, sal daar mense wees wat presies dieselfde aan hul medemens doen.

Die skrywer Milan Kundera reken die ware morele toets vir die mensdom – die fundamentele toets – lê in sy houding jeens die diere wat aan sy genade oorgelaat is.

Die weerlose Muis en haar katsussies en -boeties is wreed weggesmyt en aan hul eie lot oorgelaat deur ’n man wat van beter moet weet.

Die weerlose hond is langs die snelweg weggesmyt deur ’n vrou wat van beter moet weet.

Hoe slaap sulke mense snags?

Waar is hul gewete; hul bewussyn van goed en kwaad?

Dankie tog vir al die diereredders en hul daaglikse goeie stryd in Bloemfontein.

Dankie vir goeie mense soos die twee jong vroue wat Muis en haar sibbe uit die veld gered het, net ’n uur of wat voordat die koue toegeslaan en die harde reën uitgesak het.

Was dit nie vir diesulkes met ’n goeie hart en gewete nie, was ’n kleine kat nie hierdie Paasnaweek ’n dapper Muis, veilig aan die speel en grootword in haar nuwe huis nie.

Die eens bang blou ogies op en wakker en diep gelukkig. . .

You need to be Logged In to leave a comment.