De Wet se naam kan nou vandale, wind en weer trotseer

’n Jaar nadat die standbeeld van die Boere-held Christiaan de Wet voor die geskiedkundige Vierde Raadsaal in Pres. Brandstraat, Bloemfontein, onder vandale deurgeloop het, pryk daar nuwe letters aan die voetstuk van die beeld.


’n Jaar nadat die standbeeld van die Boere-held Christiaan de Wet voor die geskiedkundige Vierde Raadsaal in Pres. Brandstraat, Bloemfontein, onder vandale deurgeloop het, pryk daar nuwe letters aan die voetstuk van die beeld.

Dié keer is die naam Christiaan Rudolph de Wet en die jare waarin hy gebore en gesterf het, in sandsteen aangebring om te keer dat opportuniste weer die letters steel soos wat einde 2022 met die vorige bronsletters gebeur het.

Die terrein waarop die beeld voor die Vrystaatse Wetgewer staan, behoort aan die Nasionale Vrouemonumentkommissie.

Dié kommissie het Bloemfonteinse klipmesselaar Shasha Mandic gevra om die inskripsie op sandsteen aan die beeld aan te bring. Mandic het gister dié taak voltooi en vandag is die laaste afrondingswerk aan die voorkant van die beeld gedoen.

Mandic is bekend vir sy netjiese werk met sandsteen soos met die bou van die nuwe deel van die appèlhof.

Hy sê hy het klip van Naboomspruit vir die inskripsie gebruik omdat dit baie minder poreus is as die sandsteen uit Lesotho wat gebruik is vir die voetstuk van die beeld.

Willie Engelbrecht, sekretaris van die kommissie, sê daar gaan nou ’n heining om die standbeeld opgerig word.

Die beeld van De Wet met sy sweep op sy perd Fleur, gemaak deur die kunstenaar Coert Steynberg, is op 7 Oktober 1957 amptelik onthul.

Die gedagte aan ’n standbeeld van dié Boere-held, het al in 1929 begin, maar dit het jare geneem om genoeg geld in te samel om die standbeeld op te rig. Anton van Wouw sou aanvanklik die beeld gemaak het, maar hy is oorlede voordat daar genoeg geld was vir die beeld.

Steynberg het daarna opdrag ontvang om die beeld te maak, en die beeld is deur Renzo Vignali gegiet.

Prof. Andries Raath, ondervoorsitter van die kommissie, sê die beeld van De Wet op Fleur is een van die aangrypendste ruiterstandbeelde in die wêreld.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.