Die fraaiste elfies help Kersvader om kinders te bederf op die Bloemfonteinse DBV se jaarlikse Kersliggiefees. Die pretpark met vrolike Kersliggies, vermaak en geskenke is elke aand tot 23 Desember oop, van 18:00 tot 21:00, op die DBV se perseel in McGregorstraat, Ooseinde.
Veilige parkeerplek is binne die perseel beskikbaar.
Besoekers kan op die fees oulike diere-speelgoed en bederfies koop, en ouers kan vir hul kinders ’n geskenkie koop wat Kersvader sal oorhandig.
Arco Musica bied Saterdag ’n buitelug-vertoning met country-musiek aan.
Op Vrydag 22 Desember word ’n spesiale program met gospel-musiek aangebied.
Ander vermaak waarna besoekers kan uitsien, is ’n poppekasvertoning – en kinders kan die donkies in die “stal” voer.
Natuurlik is een van die hoogtepunte die geleentheid vir die gesin om ’n foto saam met Kersvader en sy elfies te laat neem.
Toegang tot die Kersliggiefees kos R30.
In die gees van Kersfees kan Bloemfonteiners dié jaarlikse fees van die DBV ondersteun waarmee geld ingesamel word om na diere in nood om te sien.